Die Minister van Grondsake en Landelike Ontwikkeling en Agri SA het ooreengekom om hul verskille oor grondsake en hul verskillende uitgangspunte daaroor te probeer vernou.
Luidens ’n verklaring het die organisasie op 5 April 2011 met mnr. Gugile Nkwinti vergader na hy ’n gewysigde benadering tot grondhervorming aangekondig het.
Die vergadering het ook plaasgevind teen die agtergrond van die organisasie se kommentaar op die veel besproke konsepwet op verblyfsekerheid.
Die partye het saamgestem dat ’n groter mate van nasionale konsensus daaromtrent nodig is, veral weens die verwagtinge wat bestaan en die belangrike rol wat die landbou ten opsigte van voedselsekerheid, werksgeleenthede en ekonomiese ontwikkeling speel.
Groenskrif
Nkwinti het aangedui dat die groenskrif wat hy na verwagting in Junie aan die kabinet wil voorlê, duidelikheid moet bring oor verskeie strategiese vrae wat verskillende gemeenskappe oor grondhervorming vra.
“Dit moet ook rigting gee aan die rol van die staat teenoor dié van die mark en realisties wees oor wat die werklike vraag na grond is.
Hy voorsien nie dat die beleidsveranderings wat oorweeg word, die produksiestruktuur van kommersiële plase sal wysig nie, maar wel dat verandering ten opsigte van eienaarskap aangebring sal moet word,” lui die verklaring.
Die organisasie het aan die minister uitgewys dat probleme met die bestaande beleid opgelos kan word as eerder aandag gegee word aan probleme met die toepassing daarvan as drastiese beleidsveranderinge. Daar is ook op die beskerming van die kollaterale waarde van grond vir beleggingsvertroue gefokus.
Verblyfsekerheidwet
Ten opsigte van die konsepwet op verblyfsekerheid het Agri SA dit weer duidelik gemaak dat die wetsontwerp onbeperkte regte aan plaasbewoners gee wat kommersiële boerderypraktyke kan ontwrig en ’n ondraaglike finansiële las op grondeienaars gaan plaas.
Die organisasie en die minister het ooreengekom dat verskeie aspekte daaromtrent verder bespreek en oorweeg moet word. Agri SA verwag om binnekort weer daaroor met die minister en sy raadgewers in gesprek te tree.
21 April 2011