Daar is geen sektor wat meer kan doen as die landbou om in die kortste tyd, op die mees kostedoeltreffende manier en met die grootste uitwerking klimaatsverandering teen te werk nie.
Só sê dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van die Suider-Afrikaanse Konfederasie van Landbou-unies (Sacau).
De Jager, ook ondervoorsitter van Agri SA, het op ’n byeenkoms van die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO) in Durban gesê die groot voorwaarde is dat boere gewillig moet wees om betrokke te raak.
Hy sê as boere nie betrokke wil raak nie, sal géén besluite oor klimaatsverandering suksesvolle verandering teweeg bring nie.
Hy sê van die struikelblokke in boere se pad is finansies.
Die regte toerusting
“Ek praat nie net namens die 10% boere wat 90% van die kos produseer nie. Vir die ander 10% is dit reeds ’n prestasie om dalk ’n trekker en ’n ploeg te besit. As iemand hom wil oortuig om ander tegnieke te gebruik, sal hy gehelp moet word om die regte toerusting te kry.”
De Jager sê buiten ekonomiese sin moet veranderinge ook gewone sin maak. Om veranderinge aan ’n boerdery aan te bring is ’n langtermyn-onderneming en daarom moet ’n boer sekerheid hê.
“Daar word baie oor ons gepraat, maar daar word nie met ons gepraat nie. As dit waar is dat die landbou vir 30% van skadelike kweekhuisgasvrystellings verantwoordelik is, moet iemand vir my verduidelik hoekom die landbou nie deel is van die onderhandelings oor ’n klimaatooreenkoms is nie.”
30 November 2011