Toetse by Karan Beef, die land se grooste voerkraal naby Heidelberg in Gauteng, het getoon dat geen aktiewe besmetting van bek-en-klouseer by die voerkraal voorkom nie. Dít volg ná die voerkraal oor die langnaweek onder kwarantyn geplaas is weens positiewe serologiese toetse op diere wat die voerkraal in Vryheid gekoop het.
Dr. Dirk Verwoerd, die voerkaal se veearts, sê tot dusver het hulle ’n minimum verlies van R5 miljoen aangeteken. Hy sê die grootste deel van dié bedrag is die verlies wat hulle gely het deur die diere waarby die serologiese tekens gevind is, onmiddellik as ’n voorsorgmaatreël te slag.
Duisende toetse
“Ná vele intensiewe toetse onder duisende diere asook opvolgtoetse kan ons met taamlike sekerheid sê dat Karan Beef geen uitgebreide voorkoms van aktiewe besmetting het nie. Die situasie met die diere van Vryheid was tipies aan die uitbreking in KwaZulu-Natal,” aldus Verwoerd.
Hy sê die voerkraal behoort tot middel April onder kwarantyn te bly, maar hulle kan op grond van die uitslae van toetse met die staat oor werksaamhede by die voerkraal onderhandel. “Die wiele kan darem nog draai hier. Dit het tot gister, eergister geduur om weer beeste te kon inbring. So, die wiele draai, maar volgens uiters streng protokol”.
Simpatie
Verwoerd sê hoewel die situasie ’n verlies aan inkomste veroorsaak het, het hy groot meegevoel met ander bedrywe wat reuse-verliese aanteken. “My hart gaan uit na ander bedrywe, soos die wolbedryf. Ag, die wol, die Angora-bokke, ’n mens kan maar net opnoem. Ons sal hierdeur kom, maar daai ouens word net soveel harder getref.”
Verwoerd meen voerkrale kan ’n belangrike rol speel om die staat by te staan om diere te toets en voorkomend op te tree.
29 Maart 2011