
In haar rubriek in Daily Maverick skryf Zille me. Nomvula Mokonyane, Minister van Water en Sanitasie, het onlangs dié inligting deurgegee tydens ’n vergadering in die provinsie.
Die departement het in die boekjaar 2013-’14 R2 miljard gekry om die damwal te verhoog.
Nadat die department se geldnood verlede jaar bekend geword het, het me. Pamela Tshwete, Adjunkminister van Water en Sanitasie, die versekering gegee dat sekere nuwe projekte, soos die Umzimvubudam en die Clanwilliamdam, nie gestaak sal word nie. “Hierdie projekte sal nie gestaak word nie. Ons gaan seker maak ons doen die werk daar.”
Die departement het sedertdien ook gesê dat die plan is om die houvermoë van die Clanwilliamdam tot 240 miljoen kubieke meter te vergroot. Dit sal watersekerheid in die Cederberge en die Matzikamagebied verbeter en beteken dat duisende hektaar bykomende landbougrond besproei sal kan word.
Geldnood
Die departement se begroting vir die ontwikkeling van waterinfrastruktuur is R12,2 miljard en sy totale begroting vir die 2017-’18 is R15,1 miljard. Om sy geldelike nood te verlig, wil die departement munisipaliteite se versnelde gemeenskapsinfrastruktuurprojekte en die infrastruktuurtoelaag vir waterdienste waarmee nog nie begin is nie, op ys plaas. Hy wil die geld gebruik om die R1,5 miljard wat aan kontrakteurs geskuld word, te betaal.
Zille het in haar skrywe gesê dat werk aan die Clanwilliamdam gestaak is omdat die departement besluit het om ’n tenderproses in te stel.
Landbouweekblad het verlede jaar berig dat werk aan die damwal in September 2016 gestaak is. Tot op datum is geen verdere konstruksiewerk gedoen nie. Zille het gesê ‘n tender is toe nooit toegeken nie en proses het einde Desember tot ’n einde gekom omdat die departement nie genoeg geld gehad het om ’n suksesvolle bieër aan te stel nie.
Die konstruksie-eenheid van die departement het aanvanklik die hele projek behartig.