
Dit blyk dat die heropening van grondeise slegs 'n verkiesingsfoefie is, want daar is geen duidelikheid waar die geld vir die proses vandaan gaan kom nie, sê die DA.
Die Nasionale Tesourie het reeds aangedui dat daar nie geld is vir die nuwe eise nie. Ontwikkelingsekonome skat dat die koste vir 397 000 nuwe grondeise tussen R129 miljard en R179 miljard kan wees as die eise binne 15 jaar afgehandel word. Hul skattings berus op hoeveel dit die staat sover gekos het om grond vir restitusie aan te koop.
Mnr. Kevin Mileham, DA-LP, sê hulle is baie bekommerd dat die Nasionale Tesourie of die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming hulle nie daartoe verbind het om die proses te finansier nie. Die departement het dit in die verlede duidelik gestel dat hy nie genoeg geld kry om die huidige uitstaande eise te finaliseer nie. "Dit blyk daarom dat die heroopstel van grondeise, wat deur die Wysigingswet op die Herstel van Grondregte moontlik gemaak word, net 'n verkiesingsfoefie is, as 'n ware verbintenis om grond terug te gee aan diegene wat deur apartheid daarvan onteien is."
Skakel vorige probleme uit
Hy sê dit is van kritieke belang dat ook verseker moet word dat vorige administratiewe ondoeltreffendhede uitgeskakel word wat in die vorige proses ondervind is. Die DA sê hy is in konsultasie met die regsadviseur van die Parlement om te bepaal of wetgewing deurgevoer kan word sonder dat daar 'n duidelike verbintenis tot die nodige finansiering is.
Sedert die aanvanklike grondeise in 1998 gesluit het, het die regering sowat 59 000 van die 77 000 eise teen 'n koste van R25, 2 miljard gefinaliseer. Einde verlede jaar is die begroting vir die restitusieprogram na R2,9 miljard gesny, terwyl gereken word dat 397 000 nuwe grondeise ingedien sal word.
Die kantoor van die hoofsweep van die ANC in die Parlement het reeds aangedui dat die Wysigingswet op die Herstel van Grondregte 'n voorkeursaak moet wees sodat dit voor die komende algemene verkiesing gefinaliseer kan word.