Die polisie in Limpopo het luidens ’n verklaring gesê hulle wil die gebruik van groen ligte stopsit, sê die TLU SA Noord. Luidens ’n verklaring het die organisasie daarvan kennis geneem toe ’n joernalis kommentaar op ’n verklaring van die polisie gevra het. Die verklaring is uitgestuur ’n dag voordat ’n gemeenskapsbeveiligingsinisiatief vir die Paastyd sou begin.
In die verklaring van die polisie staan: “Die bestuur van die polisie in Limpopo het onderneem om alles in hulle mag te doen om die gebruik van enige ‘groen ligte’ pleks van die polisie se blou ligte stop te sit. Dit volg op bewerings dat sekere lede van die gemeenskap groen ligte gebruik om sekere gebiede te patrolleer en sê hulle werk saam met die polisie om misdaad te voorkom”.
’n Dag voor Operasie Ystervuis
Mnr. Jan Viljoen, voorsitter vir die TLU SA Noord, sê hulle is geskok dat die provinsiale polisiekommissaris sy standpunt verander het ’n dag (21 April) voordat Operasie Ystervuis – die gemeenskap se inisiatief om misdaad te bekamp tydens die Paastyd – ingestel sou word.
Die organisasie het die kantoor van die kommissaris op 23 Maart in kennis gestel van hulle voorneme om die projek uit te voer nadat die organisasie geen terugvoer op vorige kommunikasie oor die saak van die polisie ontvang het nie.
Die TLU SA Noord het op 30 Maart ’n brief van die kommissaris se kantoor ontvang waarin erkenning gegee is dat die brief van 23 Maart 2011 ontvang is. Daarin spreek die kommissaris sy steun uit vir misdaadvoorkomingsaksies, soos Operasie Ystervuis.
Kommissaris sal verantwoordelik gehou word
Dit blyk of die polisie die gebruik van groen ligte wil gebruik as ’n verskoning om lede van plaaswagte onwettiglik in die Paastyd in hegtenis te neem om hul mag te vertoon en plaaswagte te intimideer, sê mnr. Doors le Roux, voorsitter van die veiligheidskomitee.
Hy sê dié aksies word onderneem om die gemeenskap veilig te hou en omdat landelike gemeenskappe weens plaasaanvalle nie ’n ander keuse het nie. “Die groot aantal deelnemers is ’n duidelike bewys dat grondeienaars nie ’n ander keuse het nie”.
Gevolglik het Le Roux dit Donderdag (21 April) in ’n dringende brief aan die kommissaris geskryf dat die kommissaris persoonlik verantwoordelik gehou sal word vir enige onregmatige inhegtenisnemings.
Verder sal die Onafhanklike Klagtedirektoraat van die saak in kennis gestel word en ’n ondersoek gevra word na die manier waarop die kommissaris plaaslike strukture behandel het.
21 April 2011