
Een van die grootste kwessies in Afrika is om regerings te oortuig dat private eiendomsreg sinvol en belangrik is om finansiering vir boerdery te kry, sê dr. Theo de Jager, voorsitter van die Konfederasie van Suider-Afrikaanse Landbou-unies (Sacau).
Hy het in Pretoria op ’n byeenkoms van Deense boere op besoek aan Suid-Afrika gesê toegang tot finansiering is die grootste probleem vir Suid-Afrikaanse boere wat in Afrika inbeweeg.
“Almal moet hul plase in Suid-Afrika as kollateraal aanbied om finansiering te kry. As jy nie grond besit nie, kry jy nie finansiering nie. Dit is hoekom die helfte van die boere in die Republiek van die Kongo moes tou opgooi. Hulle het nie grond besit wat as sekuriteit kon dien nie.”
De Jager sê hy is al agt jaar lank gemoeid met Suid-Afrikaanse boere se betrokkenheid in Afrika. In die lande waar private grondbesit bestaan, is finansiering net soveel makliker.
Hy sê meer as 2 000 Suid-Afrikaanse boere is reeds in 42 ander lande betrokke. “Suid-Afrikaners is naas China, Brasilië en Indië die grootste belegger in Afrika. China is betrokke by 174 groot projekte, maar nie een is winsgewend nie. Hulle kan nie ’n greep op die landbou kry nie, want hulle sukkel om aan te pas by die maatskaplike en kulturele omstandighede. As jy op die grond wil boer, moet jy ook met die plaaslike inwoners oor die weg kan kom.”
Hy sê Brasiliane het ’n voordeel in Mosambiek en Angola omdat hulle Portugees kan praat, maar niemand wil lank in dié lande bly nie. “Suid-Afrikaners wéét hulle verstaan nie Afrika nie. Hulle weet egter ook hulle verstaan dit beter as die meeste mense in die res van die wêreld.”
Altesame 46% van die wêreld se beskikbare landbougrond is in Afrika en die vasteland het verreweg die meeste onbenutte varswaterbronne en die beste klimaat vir landbou. “Ons het alles wat geld nie kan koop nie,” sê De Jager. ‘‘Wat moet bykom, is dié dinge wat wel met geld gekoop kan word, soos kundigheid, infrastruktuur en tegnologie.