
Die TLU SA dring daarop aan dat boere wat restitusie-eise teen hulle grond het, vrygestel word van grondbelasting op daardie eiendom.
Mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA, verwys in 'n nuusverkjlaring na die Eiendomsbelastingwet, no. 6 van 2004, wat bepaal dat 'n 10 jaar-kwytskelding is vir grond wat as gevolg van die restitusieproses oorgedra is na nuwe eienaars.
“Hierdie kwytskelding behoort in werking te tree die oomblik wat ‘n grondeis in die Staatskoerant gepubliseer is,” sê Meintjes. “Aangesien die boer de facto nie meer alleen in beheer is van sy plaas sodra ‘n grondeis geregistreer is nie, behoort die kwytskelding dus ook reeds op daardie grond van toepassing te wees. Sodra ‘n eis geregistreer is, het die Grondeisekommissaris ook inspraak in enige wesenlike besluit op die grond, dus is die boer nie meer alleen in beheer nie. In wese is die boer dan ‘n gyselaar van die eis, ongeag of die eis uiteindelik blyk regmatig te wees al dan nie. Sodanige eise neem gewoonlik jare om af te handel,” sê Meintjes.
Hy sê die speelveld behoort gelyk gemaak te word. In dié opsig wys hy daarop dat boere enige eise op eie koste moet teenstaan, terwyl eisers alle moontlike hulp van die staat ontvang. “Daarom behoort boere kwytgeskeld te word van grondbelasting.”
Meintjes sê die TLU SA is verder van mening dat waar grond wel oorgedra is en dit nie vir boerdery gebruik word nie maar vir residensiële doeleindes, elkeen van daardie inwoners dan ook aangeslaan moet word vir belasting.
Baie van die grondoordragte geskied na die staat toe en nie na individuele eienaars nie. Die staat word die belastingpligtige en behoort dan sy verpligting teenoor die plaaslike owerheid na te kom.
Meintjes sê die TLU SA sou graag wil weet of die staat inderdaad belasting betaal aan die plaaslike owerheid waar hy die eienaar geword het van restitusie-grond, en ook of die eienaars wat wel meer as tien jaar gelede grond gekry het, nou inderdaad grondbelasting betaal?