
Die Jakaranda-landbouskou, een van die land se grootste landbouskoue wat sedert 1939 in Pretoria onder verskillende name aangebied was, gaan nie vanjaar plaasvind nie.
Belanghebbendes is deur mnr. Wim du Toit, uitvoerende hoof van Tshwabac, in kennis gestel van die raad se besluit om nie vanjaar 'n skou te hê nie. Dit spruit voort uit 'n poging om die skouterrein te verkoop en 'n nuwe terrein te ontwikkel. Die skou sou vanjaar van 23 tot 26 Agustus gehou word.
Skougronde
'n Beperkende voorwaarde in die titelakte verhoed die verkoop van die skougronde sonder die stadsraad se toestemming en ná ’n aansoek in die Hooggeregshof daaroor, is beslis dat 'n aansoek aan die munisipale beplanningstribunaal gerig moet word.
Du Toit sê ná 'n onlangse ontmoeting met die munisipale bestuur van Tshwane lyk dit of daar 'n oplossing vir die kwessie gevind sal kan word.
“Weens die onsekerhede het die raad besluit om eerder vanjaar se skou te kanselleer. Dis vroeë dae, maar ons beplan om die skou in 2018 op ons nuwe perseel te laat herleef.”
Volgens 'n brief aan vertoners sê die raad hulle wil die terrein verkoop omdat dit nie meer volhoubaar is om skoue daar aan te bied nie.
Dit is 39 ha se gesogte grondgebied langs die stad se sentrale sakegebied en die grondbelasting en ander uitgawes raak te hoog. Die strewe is om 'n nuwe skouterrein op 'n meer geskikte plek te ontwikkel.
Elders ook 'n probleem
Du Toit sê ander skoue het ook in die verlede met hierdie kwessie gesit. “Die Westelike Provinsie-landbougenootskap het in Julie 1994 voor 'n feitlik identiese probleem te staan gekom en het toe ook besluit om die Goodwood-skouterrein te verkoop.
Die Witwatersrand-landbougenootskap het dieselfde besluit in 1984 geneem en toe van Milnerpark na Nasrec verhuis.
Die Pretoria-skou het in 1939 as 'n landbouskou ontstaan en teen 1962 is ander vertoners ook toegelaat. Nadat dit vir 'n lang tyd as die Pretoria-skou bekend was, was dit ook vir 'n kort rukkie die Tshwane-skou en Lenteskou voor dit die Jakaranda-landbouskou geword het.