
Die wysigingswetgewing is bedoel om onteiening met nulvergoeding vir die doeleindes van grondhervorming duidelik daarin te skryf.
Politieke partye wat stemreg het in die ad hoc-komitee wat die wysigings moet verwoord, het gestem watter voorstelle in die konsepwetgewing moet wees wat vir drie weke vir openbare kommentaar gepubliseer sal word.
Die ANC, met sy ses stemme, het al sy eie voorstelle ingestem. Die EFF, die DA en VF Plus, met hul altesaam vier stemme, het teen die voorstelle gestem.
Mnr. Floyd Shivambu, EFF-LP, het dit onomwonde gestel dat die EFF die ANC se voorstelle verwerp en in die nasionale vergadering daarteen sal stem. Dit blyk dus dat die ANC nie ’n tweederdemeerderheid gaan behaal wanneer die wetswysing in die nasionale vergadering gedebatteer en daaroor gestem word nie.
Die EFF, wat oorspronklik ’n mosie na die nasionale vergadering gebring het vir die wysiging vir die onteiening van grond sonder vergoeding, het nog altyd beloof hy sal die ANC sy steun gee om dit te verwerklik in ’n poging om die land se grondvraagstuk op te los. Die ANC wou egter nie verdere toegewings aan die EFF maak op die voorstelle wat gemaak is nie.
Die EFF wil sien dat die staat die voog van Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne, insluitend grond, moet wees en dat die hele subartikel 3 wat voorsiening maak vir die bedrag, tyd en manier van vergoeding heeltemal verwyder moet word.
Die ANC stem nie hiermee saam nie. Sy voorstel wat ingestem is, dui aan dat waar grond en enige ander verbetering daarop onteien word vir die doel van grondhervorming, die vergoedingsbedrag betaalbaar nul rand mag wees; dat nasionale wetgewing die omstandighede moet bepaal waar die vergoedingsbedrag nul rand is; die invoeging van ’n nuwe subafdeling 4A wat aandui dat die staat grond, wat die gedeelde erfenis van alle landsburgers is, moet beskerm; en ook die invoeging van subafdeling 5 dat die staat redelike wetgewende en ander maatreëls moet tref om dit vir die staat moontlik te maak “om voogskap van sekere grond” te kry sodat landsburgers toegang tot grond op gelyke grondslag kan kry. Hierdie is die gewysigde voorstelle wat vir kommentaar gepubliseer sal word.
Onnodige wysiging
Dr. Annelie Lotriet, voorsitter van die DA se parlementêre koukus, sê die ANC se swak bedinkte plan om die wysigingswetgewing in te stel het in die eerste ronde misluk met die verteenwoordigende politieke partye in die ad hoc-komitee wat die voorgestelde wysigings verwerp het. Dit wys dat die ANC nie ’n tweederdemeerderheid in die nasionale vergadering sal behaal nie.
“Dit is ’n belangrike uitkoms vir ons Grondwet, die Handves van Regte en die geveg om eiendomsreg van alle Suid-Afrikaners te beskerm.”
Die DA was nog altyd van mening die wysigingswetsontwerp moes nooit na die parlement gebring gewees het nie, want dit doen niks om grondlose landsburgers te help wat in die steek gelaat is deur die ANC se mislukte grondhervormingsprogramme nie.
Dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus, sê dit was insiggewend dat die ANC se voorstelle oor veranderinge slegs deur ANC-lede aanvaar is sonder steun van enige party, insluitend die EFF.
Dit was ook insiggewend dat die EFF nie een keer selfs ’n sekondant kon kry vir enige van sy voorstelle nie – ook nie van die ANC nie – wat beteken dat die EFF-voorstelle in ’n doodloopstraat beland het.
Hy sê dit is dus duidelik dat die verandering aan artikel 25 nog geen uitgemaakte saak is nie, en daarom is dit nou van die allergrootste belang dat die publiek soos een moet opstaan om hul teenkanting duidelik te maak en kommentaar in te dien.