
Die wynbedryf se eerste oesskatting is in Desember gedoen. Hiervolgens gaan die totale oes ietwat groter wees as in 2019, maar dit gaan waarskynlik nie by die gemiddelde oesgrootte van die afgelope vyf jaar kom nie.
In 2019 was die oes 1,244 miljoen ton. Die afgelope vyf jaar se gemiddelde oes was 1,360 miljoen ton druiwe.
Mnr. Conrad Schutte, bestuurder van konsultasiedienste by Vinpro, het in Desember gesê daar lê nog sowat 60 tot 100 dae voor waarin die druiwe sou ontwikkel en ryp word. Enigiets kan dus nog gebeur.
“In hierdie tyd sal die omgewingstoestande en bestuursinsette ’n groot invloed op die finale oesgrootte en -gehalte hê.”
Nie ’n slegte seisoen
Die meeste wyndruifproduksiegebiede het tot dusver ’n goeie seisoen gehad. Die uitsonderings is die Noord-Kaap, waar wydverspreide rypskade einde Oktober voorgekom het, en die Klein-Karoo, waar die droogte steeds heers.
Oor die algemeen het die wingerde goed gebot danksy goeie weerstoestande in die lente. Schutte is opgewonde oor die hoeveelheid blomtrosse en die goeie set wat hy in Oktober waargeneem het.
Die kusstreek het goeie reën gehad, maar dit het probleme met siektes gebring. Produsente moes bontstaan om swamsiektes en onkruid te bekamp, asook loofbestuur toe te pas.
Die warm, winderige toestande in November het die wingerde vinnig laat groei, wat weer vir goeie loofbestuur gevra het. Vroeg in Desember was die siektedruk ook hoog.
Die volgende oesskatting word op 24 Januarie uitgereik.