
Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) het sy versekering gegee dat boere nie vanjaar sal sukkel met die beskikbaarheid van entstowwe nie.
In ’n eksklusiewe onderhoud met Landbouweekblad het dr. Jacob Modumo, hoof van bedryfsontwikkeling by OBP, gesê die maatskappy fokus tans daarop om genoeg vektor-gedraagde entstowwe vir die komende seisoen te vervaardig. “In die verlede was daar vertragings met hierdie tipe entstowwe wat tot groot ongelukkigheid in die landbou gelei het.
“Ons werk nou met ’n 15-maande produksiesiklus om te verseker dat siektes soos bloutong, drie-dae-stywesiekte en knopvelsiekte, asook bosluis-gedraagde siektes soos anaplasmose (galsiekte) en entstowwe vir rooiwater nie in die komende seisoen vir boere ’n probleem raak nie,” het hy gesê.
Tekorte van vroeër
Hoewel vroeër vanjaar tekorte in sekere van hierdie entstowwe was, skryf Modumo dit toe aan ’n streng gehaltebeheerstelsel wat ’n aantal entstofbondels afgekeur het en wat tot ’n twee maande-gaping in sekere entstowwe se beskikbaarheid gelei het. “Ons vervaardig egter nou juis meer van hierdie entstowwe tot die aanloop van November, wanneer die vraag ’n hoogtepunt bereik, om gapings in produksie te verhoed.
“Terselfdertyd wil ons ook seker maak dat die entstowwe wat ons beskikbaar stel aan die hoogste moontlike standaard voldoen. Daarom is die goeie vervaardigingspraktyk (GMP) projek waarmee OBP tans besig is, so waardevol vir die maatskappy. Met opgegradeerde vervaardigingslyne en gehaltebeheer kan ons seker maak dat ons entstowwe aan die hoogste standaarde voldoen sonder dat produksiegapings plaasvind,” het hy gesê.
Modumo was ook optimisties oor OBP se vermoë om genoeg entstowwe reg oor die land te versprei nadat die maatskappy sy besigheidsmodel verander het om meer proaktief te wees met sy verspreiding. “OBP het veral meer belê in sy kouekettingstelsel om te verseker dat die entstowwe wat by boere uitkom aan die hoogste moontlike standaard voldoen en doeltreffend sal funksioneer."
Beter verpakking
"Die maatskappy het onder meer die materiaal waarin sy entstowwe verpak en versprei word, verbeter wat beteken dat ons minder terugsendings as ons mededingers het. Op koöperasievlak het ons ook die stelsel verander om die koueketting te verseker, wat ook ’n bydrae hiertoe lewer,”het hy gesê.
Wat betref entstowwe vir skape het dr. Modumo gesê die doeltreffendheid van die bestuurstelsel vir die koue ketting is opgeskerp om vir 72 uur doeltreffend te funksioneer sodat sleutelkliënte in verafgeleë dele van die Wes-, Noord- en Oos-Kaap werkbare entstowwe kan verkry.
“Ek meen dus in terme van diens, kan ons eerlik glo dat ons op gelyke voet met ons mededingers verkeer,” het Modumo gesê.