
Volgens adj.off. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, het die verdagte met
sy buurman, mnr. Reuter Sorour (56), en seun, mnr. Evan Felix Sorour (28),
baklei omdat hul beeste sy heining beskadig en op sy grond beland het.
Die Sorours het hul beeste verwyder. Die verdagte het op die toneel verskyn en Reuter na bewering aangerand. Toe Evan sy pa te hulp snel, het ’n skietery ontstaan. Die verdagte is een keer deur Evan in die heup geskiet. Hy het glo vyf skote op Evan afgevuur.
Reuter het eers met Evan huis toe gery en hom toe met ’n ander voertuig na die hospitaal probeer neem, maar Evan het op pad aan sy wonde beswyk. Die polisie het langs die R26-pad op hulle afgekom waar hulle langs die pad gestaan het.
Die verdagte is by ’n hospitaal in Bloemfontein opgespoor en in hegtenis geneem. Die polisie het op sy 9 mm-pistool beslag gelê. Die polisie het ook op die oorledene se vuurwapen beslag gelê.
Die polisie ondersoek sake van moord, poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die verdagte sal in die Ficksburg-landdroshof verskyn sodra hy uit die hospitaal ontslaan word.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.