
Die afgelope twee jaar was daar 'n groot vraag na Tuli-teelmateriaal vanuit Suid-Afrika se buurlande. ?In 2016 is vyf stoetbulle en tien stoetverse na Namibië uitgevoer, terwyl meer as 100 vroulike diere na Zimbabwe uitgevoer is.
Op die afgelope twee Tuli-veilings is nóg vier stoetbulle en bykans 30 vroulike diere deur 'n teler van Zimbabwe aangeskaf. In 2016 is 'n stoetbul uit die stoetery Alfa en Omega van mnr. Alwyn Marx van Burgersdorp vir R100 000 aan 'n teler van Namibie verkoop.
Daar is ook deurentyd 'n vraag na Tulibulle vanuit Botswana.? Volgens mnr. Charl van Rooyen, rasadviseur van die Tuli-telersgenootskap, word die aanpasbaarheid, poenskopeienskap en gehardheid van die ras hoog deur buurlande se beesboere aangeslaan, asook deur ekstensiewe beesboere en opkomende boere.
Gehalte
Tydens die produksieveiling van Alfa en Omega was daar 'n uitstekende vraag na goeie gehalte beeste. Die ses duurste bulle het tussen R50 000 en R84 000 elk behaal.
Op die uitverkopingsveiling van Rits Tulis van die Van der Walt-broers naby Venterstad was daar 'n goeie vraag na verse. Dragtige verse is vir R18 000 tot R30 000 stuk verkoop.
Op die afgelope Nampo-oesdag waartydens Tuli-beeste 'n baie positiewe indruk op besoekers gemaak het, was die grootste belangstelling by besoekers van Afrika-buurlande. Plaaslike opkomende boere het navraag oor kalwingsgemak en lae insetskoste gedoen.