BKB Beperk en sy filiale se na-belaste wins vir die finansiële jaar tot 30 Junie, het tot R65,8 miljoen toegeneem. Dit is 13% meer as die vorige jaar se R58,1 miljoen.
Hoewel die prys van geelmielies gedurende die boekjaar met 9% gedaal het, het die waarde van sake gedoen van R4,6 miljard tot R4,7 miljard toegeneem.
Die maatskappy sê in ‘n verklaring dat sy uiteenlopende bedryfsbelange hom in die huidige markomstandighede goed te staan gekom het en dat hy die sinergieë tussen sy graanbesigheid, handelsafdeling, en die feit dat hy die grootste markaandeel in lewende hawe en veilings in die land het, suksesvol kon ontgin om aandeelhouerswaarde en winsgewendheid te verhoog.
Al die afdelings het tot die verhoogde wins bygedra, met makelaarsdienste (wol en sybokhaar), lewende hawe en die graanafdeling wat besonder goed presteer het. “Wol- en sybokhaarpryse was deurlopend beter as die vorige jaar en lewende hawe pryse dieselfde. Hoewel graanpryse laer was, het die graanafdeling die aanbodketting tussen produsente en kopers geoptimaliseer. Die produksie van die Gritco-meule op Bultfontein het aansienlik toegeneem.”
Die wesensverdienste per aandeel het vanaf 68 sent tot 97 sent (43%) gestyg en die netto batewaarde het met 13% toegeneem tot R6,42 per aandeel. Die opbrengs op ekwiteit het 14% beloop.
BKB sê hy is in proses om sy finansieringsaktiwiteite te verhoog deur die implementering van ‘n nuwe bedryfsmodel en - struktuur vir sy finansieringsdienste. “Die doelwit is om winsgewende landbou finansieringspraktyke teen ‘n aanvaarbare risikovlak te bevorder.”
Sy handelsverteenwoordiging in die land gaan ook uitgebrei word. Die samesmelting met die Oos-Kaap Landboukoöperasie Beperk wat deur die Mededingingskommissie goedgekeur is, sal sy handelsvoetspoor in die Oos-Kaap verstewig. “Hoewel inset- en energiekoste in die landbou wins onder druk hou, sal BKB en sy filiale voortgaan om geleenthede te ondersoek om sy winsgewendheid te verhoog,” lui die verklaring.
Die direksie het aanbeveel dat ‘n dividend van 28 sent (vorige jaar 22 sent) uitbetaal sal word. BKB se aandele het verlede week teen R3,25 verhandel.
20 September 2010