
Die grondonteieningwetsontwerp is in die finale fases om wet te word, hoewel dit in ’n verrassende wending vandeesweek nog ’n tydjie by die portefeuljekomitee oor openbare werke en infrastruktuur bly vashaak.
Die komitee moes op Woensdag 14 September die verslag oor wetsontwerp aanvaar, maar dié proses is uitgestel tot eerskomende Dinsdag.
Definisie van ‘onteiening’ bron van kommer
Die definisie van "onteiening" in die wetsontwerp bly ’n belangrike geskilpunt.
“Daar was baie besprekings rondom die definisie van eiendom en of die definisie vaste en roerende eiendom moes uitsluit, maar geen bespreking het oor die definisie van onteiening plaasgevind nie,” sê me. Annelize Crosby, hoof van regsintelligensie by Agbiz.
“Soortgelyk is daar die regsopinie wat die komitee vanaf adv. Geoff Budlender gekry het. Dit is ’n lang uiteensetting oor die definisie van eiendom, maar baie min word gesê oor die definisie van onteiening.”
Hoekom is dié definisie so problematies?
Crosby sê die definisie van die wet is baie eng en het ’n baie sterk klem op die verkryging van eiendom deur die staat. Dit oorweeg nie die verlies wat die eienaar van die eiendom ly nie. Die definisie lees as volg: “ ‘onteiening’ beteken die verpligte verkryging van eiendom deur ’n onteieningsowerheid of staatsorgaan op versoek van ’n onteieningsowerheid, en ‘onteien’ het ’n ooreenstemmende betekenis.”
Hierdie definisie kan beteken alle gevalle waar die staat nie die eiendom verkry nie, word uitgesluit, maar dit beperk in elke geval die regte van die eienaar tot so ’n mate dat dit nutteloos word.
Volgens haar is daar vanuit ’n grondwetlike oogpunt twee konsepte wat relevant is in gevalle waar eiendom geneem word, naamlik ontneming en onteiening.
“Ontneming is die wyer konsep en onteiening is ’n vorm daarvan. Slegs onteiening trek vergoeding aan.
“Dit is hoekom die definisie van onteiening so belangrik is. As ’n aksie van die regering wat ’n impak het op eiendom buite die definisie van onteiening val, sal dit as ontneming beskou word en geen vergoeding sal dan betaalbaar wees nie.”
Crozby verwys na ’n artikel wat in 2007 verskyn het met die titel Constructive appropriation: a key to constructive expropriation. Guidelines from Canada. Daarin argumenteer prof. Elmarie van der Schyff Suid-Afrika kan oorweging geskenk aan die Kanadese se benadering tot “konstruktiewe onteiening” waarvolgens vergoeding betaalbaar is indien die verlies van die gegriefde party saamval met ’n vorm van beskikbaarstelling (toewysing) deur die onteieningsowerheid.
Gevolge indien wetsontwerp onveranderd bly
“As die wetsontwerp slaag, kan titelaktes nutteloos word,” skryf die FW de Klerk-stigting in ’n verklaring.
Dit kan selfs ’n daling in landbouproduksie veroorsaak en voedselsekerheid onder druk bring, waarsku die stigting.
Indien die wetsontwerp aanvaar en later wet word, sal dit nie net landbouproduksie en voedselsekerheid leed aandoen nie, maar ook toekomstige beleggings en ander sektore in die ekonomie skade berokken.
“Uiteindelik kan dit lei tot politieke en maatskaplike onstabiliteit, soos in Zimbabwe en Venezuela. Dit sal ook ’n ernstige bedreiging inhou vir Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie as eiendomsregte ondermyn word,” waarsku die stigting.
“Dr. Anthea Jeffreys, hoof van beleidsnavorsing by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings, waarsku ook die risiko’s raak nie net wit mense en ander minderheidsgroepe nie, maar sal ook die 9,6 miljoen swart mense raak wat formele huise besit, die miljoene meer wat gewoontereg op grondgebruik verkry het, en duisende swart mense wat meer as 6 miljoen ha landelike en stedelike grond gekoop het sedert die afskaffing van die berugte wet oor grondbeheermaatreëls van 1991.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.