
Inwoners van Kaapstad word versoek om water onmiddellik spaarsamiger te gebruik. Dit volg nadat die department van waterwese se nuutste inligting aangedui het dat die Wes-Kaap se damme in totaal 57,79% vol is, terwyl die damme wat aan Kaapstad water verskaf, in totaal 65,16% vol is. Die provinsie se damme was teen die ooreenstemmende tyd verlede jaar 74,51% vol, terwyl Kaapstad se damme 90,64% vol was.
Mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regeing, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sê luidens ’n verklaring: “Alle inwoners van die Wes-Kaap moet die oorblywende water in die provinsie se damme spaarsamig gebruik. Weerpatrone raak toenemend onvoorspelbaar. Ons kan nie aanneem dat goeie neerslae in die volgende winter gaan voorkom nie. Die beste strategie is om ’n permanente kultuur van waterspaarsamigheid aan te neem.”
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê die Clanwilliamdam is tans net bokant 50% vol. “Dit daal teen tussen 4% en 5% per week, en dit beteken dat dit reeds binne die volgende 10 weke leeg kan wees, voordat die groeiseisoen verby is en die reënseisoen begin.”
Intussen is die belangrikste en grootste dam in die Wes-Kaap, die Theewaterskloofdam, tans net bokant 60% vol, hoewel dit ietwat stadiger daal. “Met reënvalvooruitskouings wat redelik ongunstig is vir die winter, kan dié dam egter ook in die winter op baie lae vlakke wees.”
In die Oos-Kaap duur die probleem rondom die Nelson Mandela Metro voort met die Kouga- en Impofudam wat onderskeidelik op 16% en 7% staan, terwyl die reënseisoen vir dié opvanggebiede einde se kant toe staan.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.