
Daarom help dit as ’n kundige die spesifieke neigings uitlig en hoe dit jou besluitneming kan raak.
Dis reeds amper twee dekades dat prof. Johan Willemse, onafhanklik landbou-ekonoom en rubriekskrywer van Landbouweekblad, sy gereelde werksessies hou waarin boere die gereedskap en inligting kry om ingeligte bemarkings- en boerderybesluite te neem.
In hierdie tyd het hy al vele risiko’s soos droogtes, politieke en ekonomiese onsekerheid saam met boere deurgewerk. Die implikasies daarvan word altyd deeglik bespreek en ontleed op dié dae. “Dit gaan vir my oor die rigting van verandering van belangrike aspekte in ons boerdery-omgewing en die vraag wat ons op sulke sessies probeer beantwoord is hoe die boer hierdie inligting in sy boerdery moet toepas.”
Boere het ’n behoefte om met mekaar te kan gesels en vrae te vra op só ’n sessie, verduidelik Willemse sy besluit om die volgende sessie, op 23 Maart in Bloemfontein, weer regstreeks te hou en nie aanlyn nie. “Die gesprekvoering tussen boere is ook deel van die kennis-uitruiling wat plaasvind.”
Soos gebruiklik, gaan ’n aantal kenners inligting oor hul vakgebiede deel.
Een van die gereelde gassprekers op dié inligtingsessies is mnr. Johan van den Berg, ’n onafhanklike landbouweerkundige wat ook weekliks kommentaar op die weer met Landbou.com se lesers deel.
Dr. Jack Armour, bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou, gaan praat oor ’n sakevertroue-indeks vir boere en ’n kenner van Nedbank praat oor groen energie op die plaas en hoe die bank dit finansier.
Corporate Guarantee praat oor die skep van ’n reserwe- of risikofonds vir moeiliker tye en die inligtingsessie word afgesluit met ’n demonstrasie van ’n landbou-ekonomiese bestuurstelsel deur mnr. Ockie Olivier, ’n bestuurskonsultant.
Willemse self gaan praat oor aspekte soos die ekonomie en wat die huidige verlangsaming vir vleispryse beteken, op watter vlakke rentekoerse hul hoogtepunt kan bereik, wat ons van die wisselkoers kan verwag, hoe die oeste op lande lyk en watter pryse kan boere vir hul produkte en vee verwag.
Die boere-inligtingsdag word op 23 Maart van 09:00 tot 14:00 by die Bikers Church in Bloemfontein gehou. Bespreek elektronies by https://tickets.tixsa.co.za/event/landboumarkwerkswinkel4 of stuur ’n e-pos na marlene@jomar.co.za.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.