
Daar bestaan geen knaagdierdoders vir fluitrotte nie, en boere wat hul weiveld teen dié peste wil beskerm, sal die natuur se hulp moet inroep.
So sê dr. Gerhard Verdoorn, direkteur van die Griffon-gifinligtingsentrum, oor die verwoestende uitwerking wat ’n bevolkingsontploffing van dié diere tans op groot dele van die Kalahari se weiveld het.
Landbou.com het onlangs berig dat fluitrot-kolonies hul intrek in tussen 30% en 40% van die weiveld in Agri Kuruman se distrik geneem het, met tot 800 neste per hektaar weiveld.
“Dis te verwagte dat snaakse dinge sal gebeur na die ergste droogte in menseheugenis die land getref het, gevolg deur ongekende reën op sommige plekke,” sê Verdoorn.
Buiten dat daar geen spesifieke pesdoder is teen fluitrotte nie, is dit onwaarskynlik dat enige ander knaagdiergif enige effek op hulle sal hê nie, omdat hulle net gras vreet. Boere is dus op die natuur se beheermetodes aangewese.
LEES OOK: Rotte vreet Kalahari se weiveld op
Paal of put
Verdoorn beveel aan dat boere pale van nagenoeg vier meter hoog plant in hulle lande vanwaar uile en ander roofvoëls die rotte kan takel. Een paal per 10 hektaar is volgens hom voldoende.
“Wat ook mag werk is putvalle. Begrawe ’n 20 liter drom gelyk met die grond en vul dit met een derde water. Gooi vars gesnyde lusern of gars op die water so laatmiddag se kant. Die rotte sal inspring en verdrink.”
Hy maan boere om elke oggend die putvalle skoon te maak en elke aand vars materiaal op die water te gooi.
“Die Kalahari was die afgelope somer oortrek van al wat wurm was, wat selfs die swarthake opgevreet het. Dis ’n normale, natuurlike respons van organismes om hulle bevolking met mag en mening uit te brei na knellende droogtes, en ek is nie verbaas oor die fluitrotte se ontploffing nie,” sê hy.