
Mnr. Jacques Broodryk, veldtogbestuurder van AfriForum, het Maandagmiddag aan Landbou.com gesê dat sy organisasie vroeër dieselfde dag sy geskrewe vertoë by die hooggeregshof in Pietermaritzburg ingedien het. “Ons is op 30 Mei weer in die hof om te hoor wat die regter se beslissing is.”
Hy het geweier om in hierdie stadium ’n afskrif van die vertoë aan Landbou.com te verskaf.
Broodryk sê Simpson het ’n goeie ondersteuningsraamwerk deur familie en vriende. “Ten spyte van die onreg wat aan hom gedoen is en die maande wat hy in die tronk moes sit, gaan dit onder die omstandighede baie goed met hom.”
Simpson is op 28 September verlede jaar in hegtenis geneem omdat hy Qiniso Dlamini (17) na bewering vroeër dieselfde dag op Simpson se plaas in die distrik Glencoe doodgeskiet het.
Hy word aangekla van moord en van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ongelisensieerde ammunisie.
Simpson het rondloperbeeste, wat onwettig op sy plaas gewei het, by ’n kraal ingejaag en die polisie ontbied. Voordat die polisie opgedaag het, het Dlamini en onbekende mans na bewering gewelddadig probeer het om die beeste vry te stel.
Dlamini en van die mans het glo met Simpson handgemeen geraak om besit van Simpson se vuurwapen. Volgens berigte ’n skoot tydens die worsteling afgegaan en Dlamini noodlottig gewond.
Landbou.com het vroeër berig hoe Simpson borgtog op omstrede wyse deur die Glencoe-landdroshof geweier is en gevolglik byna ses maande in die tronk deurgebring het. Eers nadat AfriForum die hooggeregshof in Pietermaritzburg namens Simpson genader het, is borgtog begin Maart aan Simpson toegestaan.