
Die Gamtoosbesproeiingsraad het ná goeie reën en die herstel van Kougadam se vlakke tot byna 50% gevra dat die waterkwota verhoog word. Besproeiingsboere se waterkwota is beperk tot 20% met die aanvang van die nuwe waterjaar op 1 Julie. Op 1 Junie was die Kougadam se vlak 8,6%, en op 1 September 6,7%.
Die DWS het egter tydens ’n onlangse vergadering van belanghebbendes besluit om by ’n aankondiging in 14 September se Staatskoerant te hou. Volgens dié aankondiging verhoog die landbougebruik van oppervlak- en grondwaterbronne uit die Algoa-watertoevoerstelsel en primêre opvanggebiede se inkorting van 60% tot 80%.
Die DWS se Oos-Kaapse provinsiale hoof mag eers die waterbeperkings ophef of hersien wanneer die stelsel tot meer as 65% herstel het voor die volgende hersieningsdatum,1 Junie 2019.
Vra 50% van kwota
Mnr. Pierre Joubert, bestuurder van die Gamtoosbesproeiingsraad, wat deel is van die bestuur van die Algoa-watertoevoerstelsel, sê hulle is baie ontsteld oor die gebrek aan toegewings.
“Dit is totaal onaanvaarbaar dat ons op 20% water moet staatmaak, terwyl die dam op 50% staan.”
Joubert verduidelik die DWS grond sy berekenings op ’n model wat van 1 Junie tot 31 Mei loop. Die model kan nie oor ander tydperke gebruik word nie en bring nie die onlangse stygings in berekening nie.
Mnr. Andrew Lucas, die DWS se Oos-Kaapse direkteur vir waterregulasie en -gebruik, sê die goeie reën van 7 en 8 September in die Kougadam-opvanggebied was nog nie genoeg om die beperkings op te hef nie.
“Die departement verstaan die swaarkry wat die beperkings inhou. Ons het ’n herevaluasie van die model en scenariotoetsing, wat gebruik word om die beperkinge te stel, in werking gestel. Die doel is om die beperkinge te verminder, maar dit sal eers einde September kan plaasvind.”
Joubert sê die besproeiingsraad vra nie dat perke heeltemal opgehef word nie, maar vra slegs 50% van die normale kwota.
Nuwe krisis?
Mnr. Adriaan Groenewald, ’n prokureur wat spesialiseer in waterreg, sê boere in die Langkloof, wie se waterverbruik uit die Kougarivier en opgaardamme in die kloof ook tot 20% van normale verbruik beperk is, is ook ontevrede oor die voorskrif. Hy verteenwoordig Langkloof-boere.
Hy sê die model wat gebruik word om die waterkwota te bereken, werk onder omstandighede goed. Amptenare van die DWS het egter belangrike bedryfsrealiteite buite rekening gelaat.
’n Studie wat tydens die vergadering onder die DWS se aandag gebring is, toon permanente gewasse, soos appelbome, kan nie met slegs 20% se water vir die uitvoermark voorberei word nie, wat gevolglik verlammend vir die kloof kan wees. Nagenoeg 18% van Suid-Afrika se appel-
bome staan in die Langkloof en die appels is hoofsaaklik vir uitvoer bestem.
“Dit help nie jy probeer ’n krisis aan die een kant keer en dan skep jy ’n krisis aan die ander kant nie.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.