
Dit is baie onwaarskynlik dat beurtkrag in die afsienbare toekoms sal eindig en daar is ’n goeie kans dat Suid-Afrika vanjaar fase 8-beurtkrag gaan beleef, is die mening van me. Monique le Roux, senior navorser by die WNNR en ook ’n lid van die regering se eniegie-advieskomitee.
Le Roux, wat via Zoom op Graan SA se jaarkongres oor beurtkragoplossings en die nasionale kragnetwerk gepraat het, het gesê as die fase 6-beurtkrag van sowat twee gelede in die winter sou voorkom wanneer die vraag na krag baie hoër is, kon dit fase 8 of selfs fase 9 gewees het. “Ons benodig groot hoeveelhede nuwe opwekkingskapasiteit op die netwerk om die krisis die hoof te bied.”
Sy het gesê daar is ongelukkig baie min goeie nuus as daar na energieverskaffing gekyk word, maar daar is dinge wat ’n mens kan doen om jou eie situasie te verbeter. “Beurtkrag is net ’n simptoon van die krisis. Die kernprobleem is eenvoudig dat Eskom se voorsiening nie kan voorsien in die vraag nie.”
Sy het gesê dit maak finansiële sin om na ’n eie stelsel te kyk en het ’n sonkragstelsel van 300 kVA wat ’n boer van Bloemfontein teen ’n koste van R3,75 miljoen opgerig het, as voorbeeld gebruik. Dit het gelei tot ’n besparing van R791 299 in die boer se jaarlikse skuld aan Eskom. Dit beteken ’n terugbetalingstydperk van 4,7 jaar vir die stelsel. As ’n 18,65%-verhoging in kragtariewe van April vanjaar af in ag geneem word, neem dit af na ’n tydperk van 3,9 jaar.
“Oor tyd maak dit beslis sin vir mense om oor te skakel na hul eie alternatiewe energie indien moontlik. Die koste kan afgetrek word van belasting soos wat in die begroting aangekondig is. Ons verwag dat daar nou grootskaalse belegging in sonkrag vir eie gebruik gaan wees, want die finansiële syfers maak sin.”
Kragtariewe en meer infrastruktuur
Sy het gesê die wyse waarop die kragtariewe die afgelope tyd die hoogte ingeskiet het, dui daarop dat daar nog drastiese toenames in die volgende paar jaar gaan wees en dit gaan mense net meer aanmoedig om selfvoorsienend te raak. Eskom het ’n totale opwekkingsvermoë van 54,6 GW en die maksimum vraag in spitstyd is 34,6 GW. Tegnies is daar genoeg vermoë, maar weens gebrekkige infrastruktuur kan geensins in die vraag voorsien word nie.
Le Roux het daarop gewys dat daar ook nie veel gedoen kan word aan nuwe grootskaalse projekte nie. In provinsies soos die Oos-Kaap en Wes-Kaap waar reeds heelwat projekte vir wind- en sonkrag is, het Eskom aangedui dat daar nie nuwe krag aan die transmissielyne gekoppel kan word nie omdat die lyne by hulle maksimum kapasiteit is.
’n Ferrari in spitsverkeer
In nog ’n gesprek oor kundiges se menings by die kongres het mnr. Erik de Vries, uitvoerende hoof van Agri Technovation, oor nuwe tegnologie in graanproduksie gepraat. Hy het gesê hy werk oor die wêreld heen en Suid-Afrika het ván die beste boere ter wêreld.
“Daar is baie eienskappe van ons boere waarop ons trots is en ons het van die beste tegnologie beskikbaar. Baie boere sê vir my dit voel vir hulle of hulle met ’n Ferrari in die Joahnnesburgse verkeer vasgevang is. Hulle het hierdie ongelooflik tegnologie, maar hoe bring jy dit by die data uit sodat jy die voordele daarvan kan benut?
“Ons moet die tegnologie kan benut om winsgewendheid op die plaas te bevorder. Data en tegnologie wat nie benut word nie, is baie duur. Ons is netto uitvoerders van mielies en nou ook sojabone. Ons moet internasionaal kan meeding ongeag ons omstandighede vergeleke met ander lande se voordele. Ons moet die plante en die tegnologie bymekaar uitbring.”
Afname in risko-aptyt
Mnr. Gerhard Diedericks, ’n onafhanklike versekeringskundige wat oor groepversekering vir graan- en oliesadeprodusente gepraat het, sê daar was ’n groot afname in die risiko-aptyt. In ’n baie droë jaar is die aanvraag vir versekering van 750 000 ha tot ’n miljoen ha en as hy moet raai twyfel hy of daar vanjaar 50 000 ha se droogteversekering verkoop is.
Hy het gesê dit is soos om ’n woonwa net in Desember te wil verseker. “As almal nie deurlopend deelneem aan die poel wat beskikbaar is nie, kan ’n mens nie die voordele wat in die poel beskikbaar is, benut nie.”
Hy sê daar moet ’n balans gevind word tussen die boer se belange as koper van versekering en die risiko-aptyt wat die versekeraar bereid is om self te neem. Daar moet ’n intelligente formaat van ’n kostemodel wees om ’n aptyt by versekeraars te skep om deel van die risiko te dra. Daar moet ’n balans tussen risiko en koste wees.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.