As deel van die nasionale departement van vervoer se program om slaggate reg te maak, Operasie Vala Zonke, het mnr. William Bulwane, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, vandeesweek aangekondig dat dié departement R13 miljoen van sy eie geld en 40% van die staat se beregtigingstoelae sal aanwend om slaggate op paaie in die Vrystaat te herstel. Die program sal tot einde Maart 2023 duur.
Dié projek is vroeër deur TLU SA verwelkom, maar kritiek is uitgespreek omdat soortgelyke daadwerklike planne om slaggate te herstel nog nie in ander provinsies aangekondig is nie.
In die Vrystaat doen boere reeds geruime tyd self noodherstelwerk aan paaie ná lewensverlies op onder meer die R103 tussen Vrede en Warden, asook op die R26 tussen Bethlehem en Fouriesburg.