
Stroperverkope was in April vanjaar sowat 43% hoër as gedurende dieselfde maand in 2016, met 30 eenhede van die hand gesit teenoor verlede jaar se 21 eenhede. Tot dusver vanjaar is sowat 19% meer stropers verkoop as verlede jaar.
Altesaam 398 trekkers is in April vanjaar verkoop teenoor verlede jaar se 400 eenhede, en trekkerverkope is tot dusver in 2017 slegs sowat 4% laer as verlede jaar se verkope, luidens ’n mediaverklaring van die SA Landboumasjinerie-assosiasie.
Rekord-oeste verwag
“Oor die algemeen lyk oesvooruitsigte baie goed. Die geraamde mielie-oes van 14,5 miljoen ton is marginaal minder as die rekord-oes van 14,7 miljoen ton in 1981, die hoogste oes wat ooit behaal is. Die mielie-opbrengs van 5,53 ton/ha wat geraam word vir die seisoen, is die hoogste opbrengs ooit.
“Die sojaboon-oes van 1,23 miljoen ton is die hoogste oes wat ooit geproduseer is. Dié uitstekende oesvooruitsigte het egter ?n negatiewe uitwerking op gewaspryse. Boere is op dié stadium van die seisoen versigtig optimisties en wag om te sien wat hulle oes presies gaan oplewer.”
Die verwagting is dat 2017 se algehele trekkerverkope ten minste nie swakker sal wees as 2016 se verkope nie.