Graan SA is in die proses om lede te help wat aangedui het dat hulle ‘n bewysbare eis teen Sasol weens sy onmededingende kunsmispraktyke het.
Die proses word geformaliseer, en sulke lede sal eersdaags hierby betrek word, sê dr. Kobus Laubscher, uitvoerende hoof van dié produsente-organisasie, in die jongste Graan SA-nuusbrief. “Graan SA bly daartoe verbind om namens geraakte lede ‘n behoorlike proses te fasiliteer,” sê Laubscher.
Hy benadruk dat in samesprekings tussen Graan SA en Sasol bevestig is dat Sasol alle geldige, deeglik gekwantifiseerde eise van produsente sal oorweeg.
Die verklaring is in reaksie op sinspelings en bewerings dat Graan SA koud staan teenoor die Sasol-saak, en nie sy lede daarmee bystaan nie.
Ondersoek na praktyke
Laubscher wys daarop dat die organisasie al so vroeg as in 2002 die Mededingingskommissie gevra het vir ‘n ondersoek na onmededingende praktyke in die kunsmisbedryf. Teen 2004 het hy die kommissie van inligting voorsien wat daarop gedui het dat plaaslike pryse nie noodwendig internasionale prysvlakke weerspieël het nie.
Dié inligting kon verskaf word danksy ‘n uitgebreide databasis wat Graan SA byhou, en wat dit moontlik maak om deurlopend plaaslike en internasionale prysbewegings te vergelyk.
Graan SA was deurlopend by die Mededingingskommissie se ondersoek oor onmededingende praktyke in die plaaslike kunsmisbedryf betrokke, en het ook deurlopend konstruktiewe onderhandeling op die hoogste vlak met Sasol gevoer oor verhaling van moontlike skade aan boere.
Van die hand gewys
Dr. Pieter Mulder, adjunk-minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het ‘n versoek van Graan SA oorgedra dat ‘n boete in belang van die landbou aangewend moet word, maar dit is (deur die owerhede) van die hand gewys.
Voorts is met Sasol onderhandel oor hoe dié maatskappy in die landbou gaan terugploeg. Die moontlikheid van regsoptrede is ook deur Graan SA ondersoek, sodat hy sy lede daaroor kon raad gee. Sulke regsoptrede val egter buite die organisasie se mandaat, en daarom kon hy nie as ‘n party tot enige regsaksie toetree nie, sê Laubscher.
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die TLU SA, het by navraag gesê die laaste ding wat die TLU SA wil doen, is om met ander landbou-organisasies tou te trek oor wie het wat gedoen. Die TLU SA is ook met Sasol in gesprek oor moontlike skadevergoeding aan boere. Hulle is deur beide lede en nie-lede hieroor gekontak, sê Van Zyl.
Hy betreur dit steeds dat niemand vroe?r bereid was om in gesamentlike optrede saam met hulle skadevergoeding van Sasol te probeer verhaal nie. Die saak is in proses, sê Van Zyl.
17 November 2010