Die Swartland-distrik is trots op mnr. Pien Bester, graanboer van Moorreesburg, wat Vrydagaand (8 Oktober) in Johannesburg vereer is as Graan SA en Syngenta se Graanprodusent van die Jaar vir vanjaar.
Bester het die toekenning as ‘n groot eer beskryf asook as erkenning vir sy jarelange bydra tot die landbou.
“Ons boere is baie afhanklik van reën, so dit is ‘n groot voorreg om te wen. Ons moet altyd onthou grond is ‘n boer se grootste bate, so ons moet dit soos ‘n kleinood bewaar. Jy moet ook onthou dat jy nie grond koop of erf nie, maar leen by jou kleinkinders,” was Bester se woorde aan die gehoor.
Hy het ook sy familie, en spesifiek sy twee seuns JP en Kobus Bester vir hul aandeel in die boerdery se sukses bedank.
Opkomende graanboer
Intussen het mnr. William Matasane die Senekal-distrik opgewonde gemaak met sy toekenning as Absa en Graan SA se Opkomende boer van die Jaar. Matasane het sy blydskap uitgedruk deur te sê: “Ek voel so gelukkig soos ‘n vis in water, want om te boer is nie maklik nie en ‘n mens is afhanklik van God se genade.”
Hy het ook verskeie kommersiële boere, veral mnr. Johan Kriel, vir hul hulp en ondersteuning bedank. Matasane het sy toespraak met ‘n boodskap aan die gehoor afgesluit: “Haak Vrystaat!”
Tydens dieselfde funksie is prof. Koos van Rensburg, ‘n navorser by die Instituut vir Graangewasse, as Graan SA se Landboukundige van die Jaar vir 2010 vereer. Hy het al verskeie deurbrake rakende navorsing oor insekte wat mielies teiken, gemaak.
Erken graanboere se rol
Dr. Pieter Mulder, die adjunk-minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het tydens sy toespraak opgemerk dat Suid-Afrikaanse boere van die beste in die wêreld is deur wat hulle regkry met dit wat tot hul beskikking is.
Hy meen dat die oorspronklikheid en kundigheid in die bedryf nie deur ondeurdagte politieke uitsprake gedemp moet word nie. “In sommige regeringskringe word nog te maklik met vereenvoudigde indrukke van veral Suid-Afrikaanse kommersiële boere gewerk. Verkeerde stellings word gemaak soos dat alle kommersiële boere ryk is; of die stelling dat Suid-Afrikaanse boere, en veral graanboere, nie beskerming teen onregverdige buitelandse mededinging en subsidies nodig het nie.”
Mulder glo dat die landbou in Suid-Afrika en Afrika groot potensiaal vir die toekoms inhou, aangesien die vasteland, volgens die jongste verslag van McKinsey, ‘n navorsingsmaatskappy, 60% van die wêreld se ongekultiveerde bewerkbare grond het.
11 Oktober 2010