
Vrystaat Landbou (VL) maan dat boere nie hul veiligheidsmaatreëls rondom die hantering van gestroopte graan moet verslap nie. Twee volgelaaide vragmotors is onlangs op ’n plaas in die distrik Bothaville gesteel. Die vragmotors is teruggevind, maar die vragte graan was reeds afgelaai. Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder by die VL, sê boere het by die organisasie se veiligheidsafdeling aangemeld dat graan die naweek vermoedelik op plase in die distrik Vrede gesteel is.
Boere van Warden het onlangs ook aangemeld dat hulle ’n groot toename in graandiefstal ervaar, veral op plase wat aan die N3-hoofweg grens.
Emmers en dromme
“Die misdadigers steel met emmers en dromme uit vragte graan wat snags op vragmotors in landerye gelos word. Hulle steel selfs emmers vol graan uit stropers wat op landerye bly staan,” sê mnr. Tommie Esterhuyse, ondervoorsitter van die VL.
Esterhuyse moedig boere aan om nie vragmotors of stropers op landerye te los nie. As vragmotors of stropers op die lande gelos moet word, moet boere toesien dat dit bewaak word. Hy sê boere wat private silo’s op hul plase het, word aangeraai om die nodige veiligheidstelsels in te stel en om maklike toegang tot die silo’s te beperk.
“Weens die reën die afgelope paar dae is die stroopproses vertraag, maar ons verwag dat die diefstal kan toeneem sodra die stroopproses weer op dreef kom,” sê Esterhuyse.
Omvang van die misdaad
Volgens Buys vermoed hulle dat duisende tonne graan elke jaar gesteel word. Sy sê dit is moeilik om die omvang van die misdaad te bepaal, aangesien baie boere nie weegbrûe op hul plase het nie. Dis dan baie maklik om ’n ton of wat van die vragmotor af te laai, met die boer wat dink hy het verkeerd geskat oor die hoeveelheid graan op die vragmotor.
Sy raai boere aan om akkurate meetmeganismes te vind sodat hulle enige moontlike diefstal kan bepaal.
Esterhuyse vra boere wat vermoed dat hulle slagoffers van graandiefstal was, om die misdaad by hul veiligheidsafdeling aan te meld.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.