
Mnr. Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê die departement het al herhaaldelik gevra dat die grasietydperk verleng moet word. Daar is vandag versoek dat vragte wat reeds op die see is, aanvaar moet word wanneer dit Europa bereik. Die departement het egter nog geen terugvoering op sy versoeke ontvang nie. “Ons hoop dat hulle die regte ding sal doen.”
Die nuwe reël, ingevolge waarvan Suid-Afrikaanse sitrusvrugte kouesterilisasie moet ondergaan voor dit na die EU verskeep word, moes op 24 Junie in werking tree. Sitrusvrugte is van die reël vrygestel mits hulle die EU voor vandag bereik het.
Dié reël kan veroorsaak dat miljoene kartonhouers sitrusvrugte ter waarde van R654 miljoen wat reeds ter see is, vernietig sal moet word Dit het sedert dit vroeër vanjaar voorgestel is luidkeelse protes vanuit die plaaslike sitrusbedryf ontlok. Dit het ook met ’n goeie dosis omstredenheid gepaardgegaan aangesien dit skielik blitsvinnig danksy druk deur Spanje aanvaar is en daar baie swak gekommunikeer is oor die datum waarop die nuwe reël in werking tree.
Dr. Ivan Meyer, minister van landbou in die Wes-Kaap, waar 40% van Suid-Afrika se sitrusaanplantings voorkom, sê luidens ’n skriftelike versoek aan me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, dit is onmoontlik vir plaaslike sitrusprodusente om slegs 23 dae nadat dié reël goedgekeur is, daaraan te voldoen.
“Dit beklemtoon ook die onregverdige en diskriminerende aard van hierdie regulasie uit. Europese klante sal hoër pryse moet betaal en ons sitrusprodusente en landelike werkers sal uiteindelike die prys betaal vir hierdie ontydige besluit.
“Die 140 000 werksgeleenthede wat die sitrusbedryf steun, word in gevaar gestel. Gegewe die huidige ekonomiese probleme en werkloosheidskoers in Suid-Afrika, kan ons nie hierdie krisis se impak op die sitrusbedryf en sy werkers bekostig nie.”
Hy noem verder dat die plaaslike sitrusbedryf hom nog altyd goed van sy taak kwyt wat die nakoming van internasionale invoerders en markte se maatreëls ten opsigte van plae en siektes betref.
Landbou.com het by die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging navraag gedoen oor die lot van die sitrusvrugte wat vir Europa bestem is en reeds verskeep is. Daar word nog op terugvoering gewag.