
Dit was die boodskap van pres. Cyril Ramaphosa wat hy Donderdag tydens ’n sakeforum as deel koning Philippe en koningin Mathilde van België se staatsbesoek aan Suid-Afrika gegee het. Dit was die koninklike egpaar, wat Donderdag geland het, se eerste besoek aan die vasteland. Buiten vir hul besoek aan Gauteng sal hulle ook na die Wes-Kaap reis.
Ramaphosa het Donderdag benadruk daar is verskeie gebiede waarop die twee lande saam kan werk en geleenthede ontgin, maar daar moet ook oor sekere kwessies gesels word wat handel tussen die twee lande kan benadeel.
Ramaphosa het gesê daar heers byvoorbeeld kommer oor maatreëls wat eensydig ingestel word as dit kom by klimaatsverandering. Hy het verwys na die Europese Unie se koolstof-grensaanpassingsmeganisme (CBAM), wat opgestel is om bedryfsektore aan te moedig om hul koolstofspoor te verminder. Dit moet ook verhinder dat sommige lande eenvoudig net hul produksie na ander lande skuif waar maatreëls oor koolstofvrystelling minder streng is.
Die CBAM sal ingespan word as ’n tipe van grensbelasting op ingebedde kweekhuisgasvrystellings van koolstof-intensiewe produkte wat in die Europese Unie ingevoer word. Dit sal uiteindelik beteken dat Suid-Afrikaanse uitvoerders tariewe sal betaal gelykstaande aan koolstofpryse wat deur EU-vervaardigers betaal word.
Ramaphosa het gesê hy hoop België en Suid-Afrika kan saamwerk om hierdie kwessies hieroor saam uit te skryf.
Geleenthede vir uitvoer en vervaardiging
Volgens Ramaphosa is Suid-Afrika se landbousektor “lewendig” en “divers” met gevestigde verteenwoordiging in verskeie markte in die EU. “Ons wil uiteraard groter marktoegang in België vir ons landbouprodukte, goedere en dienste hê.
“In 2020 was Suid-Afrikaanse wyne byvoorbeeld die tweede grootste uitgevoer-kategorie na België vanuit die Wes-Kaap.
“Ons kan eerstens nuwe markte vir ons goedere en dienste skep, handel uitbrei en só meer werksgeleenthede skep. Ons wil byvoorbeeld wegbeweeg van ’n land wat ’n groot invoerder van vervaardigde produkte is na een wat ’n groot uitvoerder is, soos wat ons motorbedryf tekenend van is.”
Landbousektore kan hande vat
Ramaphosa het opgemerk België is sterk wat betref landboubesighede en het verskeie maatskappye wat reeds oplossings ontwikkel het om doeltreffendheid en produktiwiteit in sy landbousektor te verbeter. “Hierdie tegnologieë kan aangepas word vir Suid-Afrika se landbousektor se unieke probleme, soos klimaatsverandering en waterskaarste.”
Volgens Ramaphosa kan België met sy sterk vervaardiging- en logistieke sektor in Suid-Afrika geleenthede benut om produkte te vervaardig.
België het ’n bewese rekord in die ontwikkeling en toepassing van innoverende oplossings vir hernubare energie, volgens Ramaphosa. “Saam kan ons volhoubare en omgewingsvriendelike energie-oplossings skep wat tot voordeel van albei lande kan wees.”
Hy het onder meer gesê waterstof is een van die oplossings waarna gekyk kan word.