
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, sê Agbiz en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie se jongste indeks van landbousakelui se vertroue toon dat dit die eerste keer in drie jaar onder die neutrale punt van 50 gedaal het.
Die indeks is ’n baie goeie vroeë aanduider van toekomstige groei en belegging in die sektor, maar Sihlobo sê uit slegs een kwartaal se daling kan ’n mens nie definitiewe afleidings maak nie.
Respondente in die kwartaallikse opname, wat in die laaste twee weke van November gedoen is, het die volgende kwessies as groot bekommernisse genoem: volgehoue beurtkrag-episodes, hoër insetkoste, toenemende beskerming (teen invoer) in sommige uitvoermarkte, uitbrekings van dieresiektes, stygende rentekoerse, erger wordende geopolitieke spanning wat voorsieningskettings ontwrig, en voortgesette swakhede in munisipale dienslewering en netwerkbedrywe.
Die punt onder 50 weerspieël volgens Sihlobo dat “die kombinasie van hoë insetkoste, wrywing in ons uitvoermarkte en voortgesette dieresiektes begin byt”. Hy meen die sektor kan terugbons indien daar in die komende maande gunstige weerstoestande is en die Suid-Afrikaanse owerhede ’n greep kry op die marktoegangkwessies in die Europese Unie (EU).
Verder is dit nodig dat die Suid-Afrikaanse regering en die rooivleisbedryf bek-en-klouseer moet bekamp en Suid-Afrika se biosekerheid moet versterk.
Groeiende proteksionisme
Die probleme wat bedrywe soos die sitrusbedryf met uitvoer ervaar, wys duidelik in die skerp val van 20 punte, tot 50, in die subindeks wat sentiment rakende volume van uitvoer meet.
Sihlobo sê dit is nie ’n verrassing nie, gegewe die EU se sitrusverwante maatreëls, Namibië en Botswana se verbod op invoer van Suid-Afrikaanse groete, en ’n daling in uitvoer van beesvleis weens die uitbreking van bek-en-klouseer. Die swakker sentiment kan ook daarop dui dat stygende uitvoersyfers vir sommige kommoditeite eerder deur pryse as volume teweeggebring is.
Swaar reën
Landbousakelui se vertroue in algemene landboutoestande het met 2 punte tot 40 gedaal, die laagste vlak sedert die vierde kwartaal van 2019. “Dit kon gedeeltelik aangedryf gewees het deur vrese dat hoër reënval someraanplantings kon vertraag, asook verslae van skade in sommige tuinbougebiede in die noordelike streke van Suid-Afrika, ná die swaarder reën in die eerste paar weke van die aanvang van die 2022-’23-seisoen.”
Die subindeks oor omset het met een punt gedaal, maar staan op 78 punte, wat heelwat hoër as die langtermyngemiddelde is en daarop dui dat baie boere, ondanks hoër insetkoste, steeds voordeel trek uit hoë produkpryse.
Ekonomie en werkskepping
Landbousakelui is steeds redelik optimisties oor indiensneming. Sihlobo sê die jongste indiensnemingsyfers toon die primêre sektor het 873 000 mense in diens, wat op ’n jaargrondslag 5% meer is.
Hoewel sakelui marginaal beter voel oor algemene ekonomiese toestande, staan dié subindeks nog op ’n skamele 25 punte, wat op al die probleme in Suid-Afrika en die wêreld dui.
Ondanks die stygings in die rentekoers was sakelui onverwags meer optimisties oor die nodigheid om vir swak skuld en finansieringskoste voorsiening te maak.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.