Die Regering wil hê dat regulerende beperkings opgestel moet word om die beste en unieke landbougrond in die land te beskerm, en dat dié beperkings ook geld vir Suid-Afrikaners wat die grond besit.
Dít is maar een van die vele voorstelle wat in die Departement vir Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se nuwe Groenskrif aangedui word. Landbouweekblad het ‘n afskrif van die finale weergawe, wat aan die Kabinet voorgelê is, in sy besit.
Beperkings vir buitelanders, burgers
In die voorstelle oor eiendomsbesit met beperkings vir private grond word aangedui dat Suid-Afrikaners vry erfpag oor grond moet kan hê en die verkoop van grond aan buitelanders moet sekere beperkings hê.
Regulerende beperkings moet geplaas word op eiendomme wat deur Suid-Afrikaners besit word ten opsigte van sensitiewe- en nasionale grond soos gemeenskaplike grond, kus-, erfenis-, landelike-, landbou-, omgewingsensitiewe, veiligheidsensitiewe en die grond langs grensgebiede.
Om die gelyke herverdeling van grond te verseker word grondplafonne, voorkoopreg en die reg van eerste weiering voorgestel wat opgelê kan word aan Suid-Afrikaanse en buitelandse grondeienaars.
Rakende buitelanders word aangeneem dat dit ‘n voorreg vir buitelandse burgers is om sensitiewe Suid-Afrikaanse grond te besit en daarom moet voorwaardes vir die besit daarvan ingestel word. Buitelanders sal voortaan spesiale toestemming en goedkeuring moet bekom om sensitiewe- en grond van nasionale sekuriteit te bekom. Hulle sal ook slegs grond kan huur.
Vergoeding onder markwaarde
Een van die mees drastiese opsies wat in die Groenskrif uitgeredeneer word, is dat ‘n formule gekry moet word wat toelaat dat vergoeding onder markwaarde vir grond gebied kan word sonder dat dit grondwetlik betwis kan word.
In die Ministerie vir Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming word aktief opsies bespreek oor watter formule sal werk om met vergoeding onder markwaarde weg te kom. In die verlede was daar al pogings om met so ‘n formule vorendag te kom, soos byvoorbeeld die Gildenhuys-formule.
Nog ‘n opsie wat gelys word, is om grond te bekom deur ‘n “afslag” spesifiek vir grondhervormingsdoeleindes in te stel. ‘n Ander een is om produksiewaarde eerder as markwaarde as maatstaaf te gebruik om vergoeding te bepaal.
Vir die Regering sal ‘n onteieningsbenadering baie meer voordelig en spoediger wees as die beginsel van gewillige kopers en verkopers. Daar is reeds menige kere uitgewys dat die laasgenoemde benadering nie doeltreffend is nie.
Kommissie vir grondbestuur?
Om sy nuwe grondregulasies te reguleer, wil hy ‘n Kommissie vir die Bestuur van Grond (LMC) op die been bring. Dié kommissie se primêre rol sal wees om ‘n grondregister op te stel en die register se kredietwaardigheid en integriteit te beskerm en te onderhou.
Een van sy beduidendste rolle sal wees om te dien as die verwysingspunt vir die bepaal van grondprysneigings.
Lande soos Maleisië, Australië en Nieu-Seeland maak van ‘n waardasiemodel gebruik waar ‘n instelling grondwaardasies in die land standardiseer. Die Regering meen dat só ‘n ingryping van die Staat ‘n gelyke grondmark vir beide private- en grondhervormingstransaksies sal skep.
Die LMC sal die reguleerder van alle staats-, openbare en private grond in die land word. Hy sal ook moet toesien dat grond optimaal gebruik word om voedselsekuriteit, werkskepping en beleggings te verseker.
Alle grondeienaars, privaat en die staat, sal voortaan verplig word om die hoeveelheid grond in hulle besit en enige veranderinge aan die LMC bekend te maak. Die Kabinet het reeds aan die begin van Oktober die Groenskrif ontvang en dit sal binnekort in die Parlement vir openbare kommentaar ter tafel gelê word.
15 Oktober 2010