Die inligting wat tans bekend is oor die nuwe Groenskrif vir grondhervorming is nie só sleg as wat algemeen aanvaar word nie.
“Talle aspekte in die Groenskrif kan wél bestuur word,” het mnr. Ernst Janovsky, hoofbestuurder van Absa se landbou-afdeling, gesê. Janovsky het op die boerderykonvensie op Groblersdal aan boere gevra of hulle pessimisties of optimisties daaroor is.
Huurpag speel byvoorbeeld ’n belangrike rol in die nuwe Groenskrif. “Dit beteken dat onproduktiewe grond teruggeneem kan word en weer verhuur kan word om dit produktief te maak. Die tweede aspek is dat dit kommersiële boere toegang gee tot produktiewe grond en derdens pas dit die hoofman-stelsel goed. Dit kan ’n klomp probleme vir die Regering oplos. Die huurpagkwessie is dus nie sleg nie, want dit gee toegang tot grond,” het hy gesê.
’n Verdere kwessie in die Groenskrif ontstaan wanneer die staat bestaande produktiewe kommersiële grond vir die huurpagstelsel wil koop. Solank as wat ’n regverdige prys in die vrye mark aan die grond gekoppel word, behoort daar nie probleme daarmee te wees nie.
“Dit is alles bestuurbare kwessies wat kreatiewe denke sal verg,” het Janovsky gesê. Daar is onlangs ’n voorspelling gemaak dat die getalle van Suid-Afrika se kommersiële boere teen 2050 tot sowat 7 500 sal daal.
Die kosteknyptang in die landbousektor het teen 3% per jaar oor die afgelope tien jaar meegebring dat produksiekoste met 30% gestyg het. Elke boer moet homself afvra of hy deesdae 30% meer produseer as 10 jaar gelede.
“Elke boer sal die beste boer moet wees in ál die aspekte van die landbou. Boere sal die beste tegnologie moet gebruik om uiteindelik te oorleef. Gelukkig het die wetenskap vinnig gevorder. Dit duur byvoorbeeld deesdae sowat 18 maande om ’n nuwe mieliekultivar te ontwikkel teenoor die sewe jaar van vroeër. Dit is eenvoudig, as jy nie groei nie, gaan jy dood,” het Janovsky gesê.
14 Oktober 2010