Die goedkeuring van die groenskrif oor grondhervorming deur die Kabinet “kan nou die bal aan die rol sit vir die finale proses,” sê die Demokratiese Alliansie (DA).
Mnr. Gugile Nkwinti, die Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, het Woensdag (24 Augustus) in die parlement aangekondig dat die Kabinet die groenskrif goedgekeur het.
Me. Annette Steyn, die party se verteenwoordiger vir grondhervorming, sê die besluit sal binne sewe dae in die Staatskoerant gepubliseer word. In die advertensie sal aangedui word watter periode vir kommentaar aan rolspelers gegun sal word.
“Eintlik is dit nou die begin van die pad vir die proses, en nou moet ons probeer om soveel as moontlik verkeer op die pad te kry en dit so wyd as moontlik te maak deur verskeie rolspelers te kry om deel te neem,” vertel Steyn.
Ekonomiese impak
Steyn sê sover sy verstaan het die dokument nie veel verander van dít wat vroeër aan die media uitgelek is nie. “Ons vermoed dat grondplafonne steeds in die dokument ingesluit is, maar sodra dit bekend gestel word, sal ons mense daaroor inlig asook oor die proses om kommentaar te lewer.”
Sy sê die dokument kan die ekonomie op verskeie vlakke raak. “Derhalwe is dit belangrik dat nie net die landbougemeenskap en eiendomeienaars by die proses betrek moet word nie, maar instansies soos banke en ekonome moet ook kommentaar lewer.”
Afgeskaalde weergawe
Me. Annelize Crosby, Agri SA se parlementêre verteenwoordiger, sê hoewel sy verwag dat die dokument steeds kontroversiële aspekte sal bevat, sy van die Minister verstaan het dat “’n baie afgeskaalde weergawe” nou die lig gaan sien.
Sy sê Nkwinti het vroeër aangedui dat die periode vir kommentaar sowat ‘n jaar sal wees, en hulle hoop dat dit steeds die geval sal wees.
Volgens Crosby behoort die verwysingsgroep wat vroeër saamgestel is om die dokument te bespreek, in Oktober die jaar weer te vergader. ‘n Ander kleiner groepering wat aangewys sal word, sal binne die volgende drie weke vergader.
25 Augustus 2011