
Pryse op die plaaslike groentemark begin al hoe meer soos ‘n spiëelbeeld van peperduur oorsese markte lyk, aldus die Staat se onlangse landbou-handelsverslag.
Dié verslag word gesamentlik deur die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) en Departement van Landbou, Bosbou en Vissery se Direktoraat vir Internasionale Handel uitgereik.
Sedert 2002 het plaaslike groentepryse stelselmatig gestyg om die inkomste tussen uitvoer- en plaaslike groentepryse al hoe meer te vernou. Dít kan ‘n aanduiding wees dat die plaaslike markpryse sterker geraak het, wat ‘n groot aantrekkingskrag vir groenteboere kan wees.
Groenteproduksie het veral as gevolg van ‘n groeiende plaaslike vraag oor die afgelope agt jaar uitgebrei. Dié groeiende vraag word aan ‘n groeiende middelklas verbruikers toegeskryf. Verbeterde verwerking- en bergingsaanlegte het ook produksie aangemoedig.
Gaping in pryse raak wyer
Die gaping tussen die internasionale en plaaslike prys vir vrugte raak egter wyer. In 2005 was uitgevoerde vrugte R448 duurder per ton, in 2008 het dié gaping tot R1 633 per ton gestyg en in 2010 was plaaslike vrugte R2 526 per ton goedkoper as uitgevoerde vrugte. Die resessie, wat tot ‘n verstewiging van die rand teenoor geldeenhede in Westerse lande gelei het, word as die grootste rede vir dié groeiende gaping gesien.
Suid-Afrika se vrugteproduksie neem steeds toe. Van 1996 tot 2009 het produksie van 3,6 miljoen ton tot 5,5 miljoen ton gestyg. ‘n Groeiende vraag en verbeterde produksiepraktyke is van die grootste redes vir dié styging.
Die nywerheidsbeleid-aksieplan beskou groente en vrugte as die belangrikste kommoditeite, omdat beide hoë inkomste subsektore is, wat baie werk kan skep. Dié bedrywe lewer ook ‘n stewige bydrae met betrekking tot die land se landbou-uitvoer.