
In sowat 30% van die gevalle waar die staat geldelike vergoeding vir grondeise aan gemeenskappe betaal is, is dit so bestee dat dit tot ’n “aansienlike ekonomiese voordeel” gelei het.
Dít is een van die bevindinge van ’n verslag wat deur prof. Bernadette Atuahene van die Universiteit van Princeton in New Jersey, Amerika, saamgestel is – Paying for the Past: Addressing Past Property.
Dié bevinding is in teenstelling met bevindinge van die Kommissie vir die Restitusie van Grondregte, lui ’n berig op Fin24.com.
“Die meerderheid van die mense het hul vergoeding bestee om die huise waarin hulle tans tuisgaan, te verbeter, en dit verhoog dus die waarde van hul primêre bates,” sê Atuahene.
Ander gevalle
Atuahene het bevind dat die geld in 32% van gevalle ’n gemiddelde ekonomiese impak gehad het, terwyl dit in 38% van gevalle ’n klein ekonomiese impak gehad het. Verder sê sy ten spyte van die sukses kom dit voor asof beamptes negatief is oor hul eie werk.
Die oorgrote meerderheid beamptes glo dat die geld gemors word en dat die gemeenskap steeds in armoede leef: ‘‘Finansiële vergoeding het nie ’n uitwerking nie. Ons sal bystaan gee deur ’n uitbetaling in die oggend te doen, en in die aand is almal in die drankwinkel. Hulle weet nie wat om met die geld te doen nie.”
Die staat is versoek om op grond van Atuahene se verslag sy nuwe fokus op grondoordrag te verander. Dié fokus is ’n gevolg van die aanname dat die vergoeding vermors word. Atuahene raai die staat wel aan om maniere te vind om die gebruik van die vergoeding doeltreffender te maak.
Bron: Fin24.com