Goeie neerslae het ook in groot dele van Namibië geval. In die Oos-Kaap, waar sommige dele al vir vier tot vyf jaar onder droogte gebuk gaan, het goeie reën talle boere weer ’n mate van moed gegee. Die meeste van hulle is dit egter eens dat die droogte nog nie gebreek is nie. Goeie opvolgreën is nodig vir veldherstel.
By Steytlerville het daar op die plaas Rietfontein altesaam 46 mm in die eerste naweek van Februarie geval. “Al ons damme is vol,” sê mnr. Heinie Dorfling, boer van Rietfontein. Saam met die reën het daar egter ook hael so groot soos gholfballe geval wat groot skade aan die huis, buitegeboue en veld aangerig het. Oor die naweek van 9 Februarie het ’n verdere 25 mm op Rietfontein geval.
By Uitenhage het 20 mm tot 60 mm reën geval, maar mnr. Fransie Fourie, voorsitter van die distrikslandbou-unie, sê die damvlakke het nie noemenswaardig verbeter nie. “Ek dink ons het twee goeie reënseisoene nodig om die veld in ’n mate te laat herstel en ons ondergrondse waterbronne weer te normaliseer.”