
Só meen die grondaktivis adv. Tembeka Ngcukaitobi, wat verlede week sy indrukke by die Tshisimani-sentrum vir die onderrig van aktiviste in Kaapstad gegee het oor die beloftes oor grond in die ANC, EFF en PAC se verkiesingsmanifeste.
Hy glo nie daar gaan veel gebeur ná die verkiesing wat betref die wysiging van die eiendomsklousule in die Grondwet nie.
Ngcukaitobi meen die ANC het ongelukkig nie daarin geslaag om ’n visie en die nodige verbeelding aan die dag te lê om werklik grondhervorming vorentoe te neem nie.
Dit het duidelik geword dat die ANC onwillig was om wysigings aan artikel 25 van die Grondwet te maak om onteiening sonder vergoeding uitdruklik daarin uit te spel, en dat hy tot dié stap oorgegaan het weens druk van die EFF, wat aanvanklik die voorstel na die Parlement gebring het.
Nuwe visie
Wat die grondwetwysiging betref stel die ANC voor dat onteiening sonder vergoeding gedoen moet word sonder dat skade aan die ekonomie, landbousektor en voedselsekerheid berokken word. Ngcukaitobi sê dié voorwaarde van die ANC dui daarop dat die party dink ’n grondwetlike verandering sal skadelik wees vir die ekonomie, landbouproduksie en voedselsekerheid.
Die EFF soek weer gelyke herverdeling en gebruik van grond, en meen om ekonomiese vooruitgang, landbou-ontwikkeling en voedselsekerheid te geniet, die grondwetwysiging nodig is.
Volgens hom sien die EFF die moontlikhede raak wat bereik kan word, terwyl die ANC hom toespits op beperkinge.
“Ons weet Suid-Afrika se probleem is die oorkonsentrasie van grond, hetsy landbou-, private of kommunale grond, in ’n paar wit hande.”
Ngcukaitobi meen vir die grondwetwysiging om sinvol te wees, moet mens vergeet van die moontlike beperkinge daarvan, aangesien huidige grondbesitpatrone eenvoudig onvolhoubaar is.
“Dit is nie net moreel onregverdigbaar nie, maar ook ekonomies onvolhoubaar. ’n Nuwe visie is nodig.”
Voorstel
Hy beklemtoon dat nóg die ANC of die EFF ’n voorstel aangebied het oor hoe die grondwetwysiging moet lyk. Ngcukaitobi sê hy het teen die wysiging beswaar gemaak omdat dit grondwetlik en wetlik onnodig is, aangesien daar ruimte in artikel 25 is om alles te doen wat die ANC wil doen. Die ANC gebruik egter die Grondwet as ’n sondebok om voor te gee dat hy nie geweet het wat hy veronderstel was om te doen nie.
Hy wys ook daarop dat dit nie saak maak hoeveel keer die teks verander word as daar nie ’n politieke wil is om dinge te verander nie.
“Die probleem in Suid-Afrika is dat hier ’n tekort aan politieke wil is,” benadruk hy.
Agribesighede
Die ANC stel voor dat vennootskappe met landboubesighede gesmee word sodat uitvoer verbeter word en beter ondersteuning aan boere gebied kan word.
“Hierdie idee het ontstaan in die oorgangstydperk, toe die ANC geglo het hy het nie genoeg kommersiële landbouvermoëns nie, en om daardie vermoëns te ontwikkel hy met groot besighede moet saamwerk. Ons is nou al 25 jaar ’n demokrasie, en die ANC sing steeds dieselfde ou lied, dat om vordering te maak ons in vennootskap met groot landboubesighede moet tree.”
Ngcukaitobi sê hierdie vennootskappe werk eenvoudig nie, en dis al telkens bewys dat die idee van groot besighede wat ’n helpende hand na armes uitreik, nie werk nie.
Hy meen ons sien ’n herhaling van ’n beleid wat misluk het. Wat weereens gebeur is dat die belange van kleinboere nie sentraal staan in die proses nie.
Hy glo ook die klem wat grond betref, is op die verkeerde plek. “Die klem word op die landbou geplaas. Ons verwar grond met landbou, en benader dit as dieselfde. Selfs die raamwerk van die wysiging is tot die guns van die landbou.”
Om kleinboere te help, stel hy voor dat die mandaat van die Land Bank verander, en dat teruggekeer word na die praktyk waar lenings aan kleinboere toegestaan word sonder dat sekuriteit daarvoor aangebied hoef te word.
Transportaktes
Ngcukaitobi sê die ANC het ’n beheptheid met die private besit van eiendom, en sy manifes beloof ook meer private eiendomsbesit.
“Hy beloof om ons transportaktes te gee, maar waar gaan die transportaktes vandaan kom? Dit gaan kom van die regmatige eienaars. En waar is die regmatige eienaars? Hulle is in die kommunale gebiede. En wat is die kommunale gebiede? Dit is die voormalige tuislande.”
Hy maak die gevolgtrekking dat die ANC transportaktes gaan toestaan, maar net in die voormalige Transkei-gebied, of waar mense in stedelike gebiede in plakkerskampe woon.
“Mense het nie ’n probleem met ’n gebrek aan transportaktes nie, maar ’n tekort aan grond.” Hy sê die ANC se manifes skiet ook te kort wat betref die grondbehoefte in stedelike gebiede.
“Dis jammer dat die ANC geen verbeelding aan die dag lê nie.”
Staatsbesit
Die EFF stel die omstrede beleid van staatsbesit van grond voor. Dié party het in die verlede voorbrand gemaak vir algehele nasionalisering, maar in sy manifes stel hy voogdyskap van die staat voor, en dat die grond gelyk onder almal verdeel word, sê Ngcukaitobi.
Die EFF wil dié stap vermag deur wetgewing oor die herverdeling van grond en landbouhervorming deur te voer. Ook wil hy verseker dat alle Suid-Afrikaners grond besit deur “die beginsel van progressiewe staatsvoogdyskap van grond”, wat buitelanders ook sal verbied om grond in Suid-Afrika te besit.
Ngcukaitobi wys daarop dat die idee van ’n verbod op buitelandse grondbesit ook in Europa en ander lande toegepas word, maar dat daar maar ’n handjie vol buitelanders is wat landbougrond in Suid-Afrika besit.
Hy meen dat hoewel dié voorstel baie aanloklik lyk, dit nie werklik ’n verskil sal maak aan Suid-Afrika se huidige grondkwessies nie.
Instellings
Ngcukaitobi meen die EFF se voorstel om die instellings wat verantwoordelik is vir grondhervorming te hervorm ten einde die grondhervormingsproses te vergemaklik, is ’n goeie idee.
Hy sê die Grondeisehof het agteruit gegaan weens verwaarlosing deur die regering. Daar was voorheen vyf permanente regters, en vandag is daar geen. Waarnemende regters dien nou in dié hof.
Dié hof is veronderstel om die kwessies van plaaswerkers, restitusie en huurarbeiders te hanteer, maar sowat 80% van sy werk gaan oor plaasuitsettings.
“Die regters doen nie restitusiesake nie. Dit is besig om op te hoop by die grondeisekommissie. Sowat 7 000 sake word nie na die hof verwys nie.”
Hy sê as grondhervorming regtig ernstig opgeneem word, sal daadwerklik gepoog word om sterk instellings vir grondhervorming tot stand te bring.
Oor die PAC se beleid oor grond, het hy gesê dat dié party nie sterk na vore kom rakende die kwessie nie. Die party vra egter die vraag: Wie is die eienaars van Suid-Afrika? Hierdie vraag oor soewereiniteit moet eers beantwoord word, voordat die grondkwessie aangespreek word.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.