
Grondhervorming is ’n onderwerp wat reeds geruime tyd onsekerheid en kommer in die landbousektor veroorsaak. Hoewel die proses om die Grondwet te verander om onteiening sonder vergoeding duidelik te omskryf vir eers eenkant geskuif is totdat ’n nuwe parlement verkies is, is sommige mense vasbeslote om self die herverdeling van landbougrond aan te hits.
Luidens ’n verklaring van Black First Land First (BLF) wat onlangs die ronde gedoen het, gaan hulle nie wag tot die verkiesing op 8 Mei plaasgevind het nie. BLF moedig mense aan om reeds voor die verkiesing aan te dring op landbougrond. Lede van dié beweging het reeds verlede jaar plase in Stellenbosch beset. Luidens die verklaring is 4 000 mense nou danksy die besetting gehuisves en naby skole, indiensneming en water. Landbougrond in Durbanville is nou in hul visier en besettings word vir April beoog.
Mee. Nikita Roode en Nicole Pretorius van die Universiteit Stellenbosch se regskliniek sê hoewel die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond (Wet 19 van 1998) voorsiening maak vir die uitsetting van onregmatige grondbesetters, kan ’n aantal stappe gedoen word ter voorkoming van die onwettige besetting van grond.
Die eerste stap kan gedoen word nog voordat vermeende grondbesetters hul voete op jou plaas gesit het. “Voordat die grond deur grondbesetters betree word, en indien die eienaar rede het om te glo dat die grond betree gaan word, kan die grondeienaar aansoek doen om ’n interdik om die persone te verbied om sy of haar grond te betree,” sê hulle. “Die interdik behoort toegestaan te word waar daar ’n dreigende gevaar is van die onwettige betreding van die grond. Oortreding van so ’n interdik sal ’n strafregtelike oortreding daarstel.”
’n Groep van tien boere van Durbanville, onder meer verteenwoordigers van Durbanville Hills, Maastricht, Bloemendal en Groot Phesantekraal, het reeds dié stap gedoen deur vroeër vandeesmaand ’n interdik teen BLF by die Wes-Kaapse Hooggeregshof te bekom. Luidens ’n berig op Daily Maverick se webwerf het dié boere reeds skriftelike dreigemente van lede van BLF ontvang. BLF het nie die interdik teengestaan nie.
Voorkom die oprigting van
strukture
Indien die onwettige betreding van jou grond reeds plaasgevind het, moet die polisie so vinnig moontlik ontbied word – verkieslik voordat die betreders enige strukture op jou grond oprig. Onwettige betreding kan deur die omheining van jou grond of die aanstel van sekuriteitspersoneel voorkom word. Dit kan help om lid van ’n gebiedsbeveiligingsnetwerk te wees.
Wanneer strukture reeds opgerig is, word dit ingewikkelder om besetters van jou grond te verwyder, omdat ’n hofbevel dan bekom moet word. Roode en Pretorius sê die onregmatige besetters en die plaaslike munisipaliteit moet minstens 14 dae voor die aanhoor van die verrigtinge vir die aansoek om ’n hofbevel geskrewe en doelmatige kennis daarvan ontvang. “Hierdie kennisgewing moet meld dat verrigtinge ingestel word vir ’n bevel vir die uitsetting van die onregmatige besetter; aandui op welke datum en tyd die hof die verrigtinge sal aanhoor; die gronde vir die beoogde uitsetting uiteensit; en verder meld dat die onregmatige besetter geregtig is om voor die hof te verskyn en die aansoek teen te staan.”
Indien die hof oortuig is dat aan al die wetlike vereistes voldoen is en dat die besetter geen geldige verweer het nie, sal ’n hofbevel uitgereik word vir die uitsetting van die besetter, asook ’n datum waarop die besetter die grond moet ontruim. Die hofbevel verskaf ook ’n datum waarop die uitsetting sal plaasvind indien die besetter nie die grond ontruim nie. “Die hof kan verder ’n bevel bekragtig vir die sloping en verwydering van strukture wat deur die onwettige besetter opgerig is.”
Dit is baie belangrik dat die besetter met ’n hofbevel van die grond afgesit word, want as ’n hofbevel nie daarvoor uitgereik is nie, kan die besetter aansoek doen om op die grond te bly. “Die besetter sal nie, indien hy of sy onregmatig uitgesit is, hoef te bewys dat sy of haar besetting wettig was nie, maar dat hy of sy wel die bedoeling gehad het om die eiendom vir bewoning te beset.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.