
Meintjes het dié opmerking gemaak na aanleiding van die langverwagte verslag van die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming wat die naweek bekend gestel is en reeds kritiek uit verskeie oorde ontlok het.
Meintjes sê die verslag maak dit duidelik dat die regering en president Cyril Ramaphosa hulle aan hul neuse laat rondlei sonder om die langtermyngevolge vir Suid-Afrika in ag te neem. Volgens Meintjes vereis die meerderheid Suid-Afrikaners ’n onmiddellike oplossing vir iets waarvoor daar nie ’n onmiddellike oplossing bestaan nie. “Suid-Afrika het eenvoudig nie die vermoë om dit wat die taakspan voorstel, in werking te stel nie.”
Hy meen verwagtinge rondom grondhervorming is egter ongelukkig reeds geskep en nou moet die voorstelle eenvoudig afgedwing word om mense tevrede te hou.
Die landbougemeenskap het reeds vroeër beswaar gemaak oor die manier waarop die verslag saamgestel is nadat boere se insette grootliks geïgnoreer is. Mnre. Nick Serfontein, paneellid en voorsitter van die Sernick-groep, en Dan Kriek, voorsitter van Agri SA, was die enigste landbouverteenwoordigers op die paneel en hul insette is in so ’n mate opsy geskuif dat hulle ’n minderheidsverslag saamgestel het.
“Wie praat namens boere…”
Meintjes sê TLU SA, ’n verteenwoordiger van kommersiële boere, is geensins om kommentaar genader nie. “Wie praat namens al die boere wat nie verteenwoordiging in die paneel gehad het nie? TLU SA stel nog altyd ekonomiese beginsels voorop in enige gesprekke oor hervorming en as die basis vir suksesvolle landbou.”
Hy sê die proses rondom die opstel van die verslag was nie gerig op die ekonomie nie. Gevolglik stuur dit af op ’n staatsbeheerde omgewing waarbinne die inisiatief van entrepreneurs en beleggers versmoor sal word. “Die samestelling van die taakspan het duidelik ’n spesifieke uitkoms bewerkstellig as gevolg van die persoonlike verbintenisse en standpunte wat ondersteun word.”
Die voorgestelde proses rondom die keuring en kies van begunstigdes van grondhervorming is volgens Meintjes onder verdenking en baie duidelik deel van die ANC-regering se doelwit van totale staatsbeheer, en in besonder die beheer van die produksie en verspreiding van voedsel. “Dit is niks anders as die wettiging van grondkaping deur die ANC-elite nie. Waarom anders die voorgestelde regulering oor watter produk waar geplant mag word, tesame met ’n beplande grondbelasting vir plase waar boere reeds onder geweldige druk verkeer om kop bo water te hou?”
Hy meen die verslag fokus grootliks op plase vir onteiening terwyl 67% van die Suid-Afrikaanse bevolking reeds verstedelik het en die behoefte vir behuising en dienste daar meer dringend is.
Hy sê die uitwerking wat grondhervorming op voedselsekerheid sal hê moet nie geïgnoreer word nie. “Kommersiële produsente moet in die voedselbehoeftes van stedelinge voorsien. Die oorgrote meerderheid bykans 95% – van plase wat reeds deur die staat oorgedra is, het misluk en is uit produksie. Die kanse is skraal dat die plase wat sonder vergoeding onteien word, wel sal slaag. Hoe gaan Suid-Afrika dan in die voedselbehoeftes van meer as 50 miljoen mense voorsien?”
Eiendomsreg
Hy sê om grond uit te deel gaan beslis nie die ingewikkelde probleem van armoede, wat “gesetel is in ’n onopgeleide werkersklas as gevolg van swak skole en gebrekkige vaardigheidsontwikkeling”, oplos nie. “Werk eerder daaraan om ’n ware klimaat vir ekonomiese welvaart te skep. Die proses sal net slaag indien daar aan ekonomiese beginsels voldoen word eerder as rasgedrewe politiek. As alle sake rondom grond afgehandel is, wat dan mnr. Ramaphosa?”
Die klem vir werklike oplossings behoort te wees waar die grootste opbrengs met die kleinste inset is, sê Meintjes. “Dit is om eerstens behuising te verskaf aan dié stedelinge wat in onaanvaarbare omstandighede bly. Daarna om seker te maak dat daar ook in die voedselbehoeftes van hierdie groep voorsien word – wat uiteraard die taak van die kommersiële boer is.”
Die onverantwoordelikheid rondom hierdie verslag gaan ’n uitwerking hê op alle burgers wat eiendom besit, sê Meintjes. “Ons doen ’n beroep op enige regslui wat besorg is oor die toekoms van Suid-Afrika om TLU SA te kontak. Ons het reeds voorsiening gemaak in die vorm van ’n trustfonds om boere wie se grond teen hulle sin en onder markwaarde onteien word, by te staan.”
“ ’n Verantwoordelike regering en sy amptenare sal ook nie ’n Sondag gebruik om ’n verslag bekend te maak wat die potensiaal het om Suid-Afrika te vernietig nie. Verantwoordelike mense sal Sondag in die kerk wees om te bid vir Suid-Afrika,” sê Meintjes.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.