
Dit kom nadat ’n grondeis vir die Ubizo-gemeenskap, bestaande uit 194 huishoudings, in 1995 namens die gemeenskap deur Inkosi Nsikayezwe Russel Cebekhulu by die streeksgrondeisekomissie geregistreer is.
Die eerste fase van die Ubizo-eis is in 2015 deur die regering goedgekeur en 2 547 ha is aan die gemeenskap gegee. Suikerriet is op 1 749 ha gevestig. Nadat die tweede fase van die Ubizo-grondeis in die 2019-’20-boekjaar afgehandel is, is nog grond aan die gemeenskap oorgedra.
In 2018 het die Ubizo Community Property Association (CPA) ’n verhuringsooreenkoms met Tongaat Hulett aangegaan. Die ooreenkoms het ’n aantal doelwitte daargestel, onder meer om die suikerrietontwikkeling in die gehuurde gedeelte van die grond te versnel, ondersteuning, opleiding, kapasiteitsontwikkeling en opleidingsprogramme vir die gemeenskap, kontraktuele geleenthede vir gemeenskapslede wat daarvoor in aanmerking kom, en maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling.
Tongaat Hulett, in vennootskap met die Ubizo CPA, het verseker dat die verskillende suikerrietontwikkelingsprojekte op die plaas tot stand gebring word. Albei partye het verseker dat die regte individue geïdentifiseer word om met verloop van tyd in die rol van plaasbestuurder in te groei.
Goeie bestuur
Die vennootskap vorm deel van ’n gesamentlike poging tussen die streeksgrondeisekommissie, gemeenskapsleiers en Tongaat Hulett om grondhervorming in die provinsie te bevorder. Die Ubizo CPA het 194 huishoudings wat deel van die register van begunstigdes uitmaak.
Me. Nkonzo Mhlongo, korporatiewe sakebestuurder by Tongaat Hulett, sê grondhervorming is een van die dryfvere om die bemagtiging van geskiedkundig benadeelde gemeenskappe in Suid-Afrika te bespoedig.
“Grondhervormingsprojekte wat goed bestuur word, skep waarde vir die armes, balanseer verhoudings tussen maatskappye soos Tongaat Hulett en gemeenskappe, en bevorder volhoubare plattelandse ontwikkeling. Dit bied ook aan invidivue binne die gemeenskap die geleentheid om verskillende sakegeleenthede wat deur die grondhervormingsproses geskep word, te ontgin.”
Mnr. Thomas Cebekhulu, voorsitter van die Ubizo CPA, sê die organisasie erken die rol van grondrestitusie vir maatskaplike opheffing en die verbetering van lewensomstandighede, veral in plattelandse gemeenskappe.
“Al ons pogings as die Ubizo CPA se uitvoerende komitee, in opdrag van die begunstigdes, was om te verseker dat ons goeie bestuur toepas en beloftes aan begunstigdes nakom. Gedurende die tydperk wat ons aan die stuur van sake gestaan het, is verskeie groot prestasies behaal. Dit kan toegeskryf word aan ons gesonde werksverhouding met Tongaat Hulett.
“Die opwindendste gedeelte is die verspreiding van R6 miljoen in dividende aan die 194 huishoudings, met elke huishouding wat R30 927,84 ontvang het. Dit is ’n duidelike aanduiding dat die Ubizo CPA-komitee sy mandaat om begunstiging te verseker, nagekom het. Die verdelingsproses is ’n duidelike verklaring aan die begunstigdes en ander grondrestitusiegemeenskappe dat die restitusieproses die vermoë het om ekonomiese voordele aan die gemeenskap te verleen.”
’n Gemeenskap wat na sy bate omsien
Adv. Bheki Mbili, streekshoof van die grondeisekomissie, sê die kommissie is tevrede met die ontwikkeling binne die Ubizo-gemeenskap.
“Wat ons opgewonde maak, is nie net die uitbetaling van dividende aan die begunstigdes van die eis nie, maar ons word ook bemoedig deur die voorbeeldige manier waarop hierdie gemeenskap kyk na die grond wat aan hom terugbesorg is. Indien hulle dit nie gedoen het nie, sou die uitbetaling van dividende ’n ontwykende droom gebly het.
“Ons is ook bemoedig deur die vlak van stabiliteit in die gemeenskap. Dit voorspel goeie dinge vir die ekonomiese geleenthede ten opsigte van toekomstige grondhervorming.
“Ons wil die gemeenskapsleiers van Ubizo gelukwens met hul pogings om te verseker dat die gemeenskap die voordeel van restitusie geniet, terwyl hulle ook die bate wat voortgesette voordele vir toekomstige generasies verseker, beskerm.”