
Die wyse waarop die staat sedert die vroeë 2000’s met grondhervorming en landbou-ontwikkeling omgegaan het, verdien ’n soortgelyke ondersoek as die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping en korrupsie, sê Saai, die netwerk vir familieboerderye.
“Terwyl Suid-Afrika steier onder die eerste Zondo-kommissieverslag se onthullings van bedrog, nepotisme, selfverryking, kaderbevoordeling en oneerlikheid onder ANC-bewind en -bestuur, is daar omvangryke onreëlmatighede in die grondhervormingsproses waarna die kommissie nie eens gekyk het nie,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai. “Ons hoop dat daar eendag ’n soortgelyke ondersoek van stapel gestuur sal word na die departemente wat vir grondhervorming en boerontwikkeling verantwoordelik was.”
Hy glo só ’n ondersoek behoort te konsentreer op die geldigheid en wetlikheid van grondeise wat tot transaksies van miljarde rande aanleiding gegee het. Dit behoort ook die begunstiging van lyste van mense wat uit daardie transaksies en landbou-ondernemings voordeel trek, onder ’n vergrootglas te plaas.
Mnr. Kgalema Motlanthe, voormalige president, het in 2018 reeds ná ’n hoëvlakondersoek ’n verdoemende verslag oor onreëlmatighede in grondhervorming aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig, maar daar het dadels van gekom. Niemand is nog verantwoordelik of aanspreeklik gehou nie.
Hoe gaan vertroue herstel word?
De Jager sê geld wat vir boerontwikkeling en aanvangskapitaal aan grondhervormingsbegunstigdes begroot is, kom selde by hulle uit. Omstrede gemeenskapseiendomsverenigings is meestal gelaai met kaders wat geen belang by suksesvolle landbou-ontwikkeling of armoedeverligting het nie en hulle loop met die geld weg.
“Die manipulering van plaaspryse om vir kommissie en omkopery voorsiening te maak het in transaksies soos in Badplaas en Mala-Mala, waar ’n miljard rand vir ’n wildplaas betaal is, opslae gemaak, maar daar het ná meer as ’n dekade ook niks van gekom nie.”
De Jager sê op elke vergadering wat Saai het met ambassades in Pretoria, of met buitelandse regerings elders ter wêreld, kom die jammerlike toestand en swak bestuur van grondhervorming ter sprake. Dit is duidelik dat Suid-Afrika iets verbeeldingryk sal moet doen om legitimiteit en vertroue in grondhervorming te herstel.
“Om die Motlanthe-verslag onder die mat uit te haal en ’n Zondo-tipe ondersoek van stapel te stuur, kan al ver gaan om grondhervorming op ’n sinvolle trajek te plaas en ’n klas van winsgewende swart boere te skep.”
Saai sê in ’n verklaring ook die herverdelingsprogram, waar begunstigdes nie eienaarskap van die grond kry nie, maar met huurkontrakte tot ewige bywonerstatus verdoem word, word deur nepotisme en korrupsie gekniehalter.
Die voorvalle waar mnre. Ivan Cloete in die Wes-Kaap, Vuyani Zigana in die Oos-Kaap en 39 swart boere in Ermelo van hulle huurplase afgeskop is om vir skatryk tenderpreneurs met invloedryke vriende voorsiening te maak, is maar enkele voorbeelde wat mediablootstelling gekry het.
Die ANC-leiers se verskoning is deurgaans dat hulle nie daarvan bewus was nie, maar daar is ook geen optrede teen korrupte laervlakamptenare nie. Volgens Saai is die hoë omset van direkteurs-generaal in die betrokke departemente ’n aanduiding van die chaos en gebrekkige leierskap in grondhervorming.
“Elke keer as ’n minister of swart landbouleier sê dat meer as 90% van alle grondhervormingsprojekte misluk het, wonder die boere waar die ander 10% is,” sê De Jager.