
Dit was die boodskap van ds. Petrus Grové, een van die boere wat betrokke is by die MD Foundation op Ficksburg, tydens Landbouweekblad en Agri SA se grondberaad op Bela-Bela.
“Ons moet ophou om uit vrees te dink oor hoe ons alles moet probeer beskerm. Ons moet die Here vertrou en vir Hom vra hoe lyk Sý plan vir Suid-Afrika. Daar is ’n rede hoekom jy nou in die land is,” het Grové gesê.
Grové het verwys na Matteus 6 waar staan dat die mens homself/haarself moet verloën en sy/haar kruis opneem. “As ons mooi na die betekenis van verloën kyk, beteken dit dat jy jouself eintlik moet ‘onteien’. En wanneer jy jouself ‘onteien’ het, dan besef jy jy is ’n rentmeenster in gebruik van die Here. Jy besit eintlik niks. Jy is hier vir God se plan.”
Volgens Grové besef hulle as ’n “koninkryksboerdery” watter probleme boere en boerderye daagliks te bowe moet kom. “Ons leef in dieselfde omstandighede.”
Die groep het ’n model saamgestel waarvolgens hulle hul boerdery en die plaaslike gemeenskap wil bevorder. “Ons het gesoek na ’n struktuur wat ons in staat sal stel om karakter te behou.”
Volgens die model sal die groep 45% van sy boerdery aan die staat verkoop. Dié geld sal in die boerdery belê word sodat hulle meer werksgeleenthede in die gemeenskap kan skep. Verder sal 10% van die stigting deel wees van ’n organisasie sonder winsoogmerk. Die organisasie sal die groep se projekte soos die Missio Dei-skool, die Bonang Bacha-gesondheidsentrum, die nasorgsentrum in die informele nedersetting Meqheleng en die Missio Dei-kliniek op een van hul plase bestuur. “Die ander 45% behou ons dan as onderneming.” Grové sê met hierdie model sal 55% van die stigting dus swart bemagtiging toepas.
Volgens Grové het hulle reeds opkomende boere in die gemeenskap met ’n ooreenstemmende visie oor die model genader. Verder is die Ficksburg-boerevereniging besig om ’n boerevereniging vir opkomende boere te stig.
’n Resep vir mislukking
Mnr. Patrick Sekwatlakwatla, bestuurder van Sernick se maatskaplike beleggingsprojek, het gesê die manier waarop die staat grondhervorming toepas, is ’n resep vir mislukking. “Jy kan nie vir iemand grond gee sonder toegang tot finansiering en met geen ondervinding, opleiding, mentorskap of ondersteuning nie. Dis omtrent ’n misdaad.”
Sekwatlakwatla sê sedert hulle die program in 2015 begin het, het hy eerstehands ervaar deur watter “hel opkomende boere in Suid-Afrika gaan. Vir 24 jaar is hierdie mense wat opregte, eerlike en ernstige voornemens en drome het om te boer, deur die stelsel in die steek gelaat.”
Die redes vir die situasie wat tans bestaan, is volgens Sekwatlakwatla onder meer korrupsie, ’n gebrek aan leierskap en ’n gebrek aan politieke wil om die situasie te verbeter.
Volgens Sekwatlakwatla het opkomende boere vertroue in die staat verloor. Hulle voel teleurgesteld, kwaad, ontnugter en sinies. Hy sê verder voel die wit kommersiële boere wat omgee en wil help, vervreem en onwelkom. “Die onlangse tekens van radikalisme en rassisme is ’n ernstige aanklag op die politieke klimaat in die land en dit skep ’n gevaarlike spiraal na ’n plek waar ons nie wil wees nie.”
Sekwatlakwatla sê hulle is baie dankbaar vir die sukses wat Sernick se projek reeds bereik het. Vanweë die sukses wat die groep behaal het in vennootskap met die Serlaff-koöperasie – wat onder meer bestaan uit ’n groep van 59 opkomende boere – is ’n lening van R165 miljoen vir ’n tydperk van drie jaar deur die Tesourie se fonds vir werkskepping aan hulle toegestaan.
Met dié geld, die Land Bank se lenings wat reeds sedert 2016 aan Serlaff beskikbaar gestel word, en hul eie geld hoop hulle om binne die volgende drie jaar 1 400 werksgeleenthede in die omgewing van Kroonstad en Edenville te skep, asook om 660 opkomende boere oor ’n langer tydperk op te lei en te ondersteun.
Die Departement van Landbou en Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) is van die instellings wat onlangs met Sernick moontlike samewerking ten opsigte van die projek bespreek het. Sekwatlakwatla het ’n versoek tot opkomende en kommersiële boere gerig om voort te gaan om saam te werk om die land vorentoe te neem.
Hou Landbouweekblad en Landbou.com dop vir nog berigte oor die suksesstories wat tydens die beraad bespreek is.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.