
In ’n vreemde wending is slegs een skriftelike openbare kommentaar in ag geneem om die afsnydatum vir grondeise vanaf 1913 na 1 Januarie 1800 te verander in die 18de wysigingswetsontwerp op die Grondwet.
Die wysigingswetsontwerp wat in die vorige komiteevergadering as ’n hersiende weergawe en dus die derde weergawe voorgehou is, is net so vreemd in die jongste vergadering na slegs ’n “voorstel” verander.
Die ad hoc-komitee, wat nog twee weke gekry het om sy werk te voltooi, is gelas om wysigings vir artikel 25 op te stel om nulvergoeding vir die doeleindes van grondhervorming duidelik in die Grondwet te skryf.
Dr. Annelie Lotriet, voorsitter van die DA se parlementêre koukus, het gesê die ANC het die parlementêre proses gemanipuleer deur eensydig te besluit om die afsnydatum vir grondeise na 1 Januarie 1800 te verander in die wysigingswetsontwerp. “Die ANC het die klousule in die wysigingswetsontwerp ingesmokkel sonder die wete van ander politieke partye wat in die komitee verteenwoordig word.”
Sy het gesê een geskrewe inset wat vir die verandering van die afsnydatum vra, kan nie as ’n voldoende drumpel gesien word om hierdie omstrede klousule in te bring nie.
Dr. Mathole Motshekga, voorsitter van die ad hoc-komitee, het in die vergadering gesê die bestuurskomitee het die verlenging van twee weke gevra het en ook die opstel van die derde weergawe van die wysigingswetsontwerp.
Lotriet het gesê enige proses wat die komitee uitsluit, is onreëlmatig en ’n afwyking van die parlementêre reëls.
Desperaat
Die Afrikanerbond sê die radikale verandering aan ’n reeds onaanvaarbare 18de wysigingswetsontwerp is ’n absolute en finale bevestiging van die ANC se wanhopige desperaatheid om die proses deurgevoer te kry. Die interne spanning en wrywing tussen faksies is reeds onomkeerbaar. Onteiening sonder vergoeding en die wysiging van die Grondwet om dit moontlik te maak het sy oorsprong in die ANC se faksiegevegte en die oppervlakkige versekeringe wat pres. Cyril Ramaphosa aanvanklik gegee het “dat die ekonomie nie geskaad moet word nie”, is ook nou nie meer ’n oorweging nie. Die werklikheid is dat die ekonomie reeds steier onder tekortkominge en beleidsonsekerhede.
’n Afrika-gesegde lui “as die olifante baklei, kry die gras seer”. In dié geval is dit ongelukkig die Grondwet en demokratiese parlementêre prosesse wat ly onder ’n ANC wat beheer verloor het.
Om die datum van 1913 terug te skuif na 1 Januarie 1800 en om gemeenskapsgrond van tradisionele gemeenskappe uit te sluit dui ongelukkig aan dat die ANC nou na die pype van die EFF gedans het. Onteiening van grond word gevolglik ’n proses waarin ras die kriterium gaan word vir onteiening. Die ANC het die marionet geword van die EFF-marionetmeester.
Die ad hoc-komitee sal weer môre vergader.