Ná jare se beplanning sal ’n volledige grondoudit binne die volgende ses maande gedoen word.
Al wat nog in die pad daarvan staan, is ’n voldoende begroting en kundige personeel, sê dr. John Purchase, voorsitter van die forum vir landbou se uitvoerende hoofde. Die beoogde oudit is op die forum se vergadering op Stellenbosch bespreek.
Mnr. Nico Kruger, leier van die forum se grondoudit-taakspan, sê die metodologie en tegnologie is gereed vir ’n nasionale grondoudit. Die oudit is ’n gesamentlike projek deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming en verskeie organisasies in die private sektor.
Purchase sê omdat dit só ’n intensiewe studie is, is daar nog nie sekerheid oor die tydsduur daarvan nie. “Dit is nou belangrik om vaardige mense aan te stel en hulpbronne aan die projek toegedeel te kry. Die geld wat vir die taak geoormerk is, is egter nog te min.”
Pryse van produksiefaktore wat deur die staat vasgestel word, is ook op die vergadering onder die vergrootglas geplaas. Oor die afgelope maande het krag- en vervoertariewe dramaties gestyg en watertariewe kan ook binnekort met tot 50% styg.
Om dié rede het die forum die departement versoek om die Nasionale Landboubemarkingsraad en die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) te betrek by ’n studie oor die invloed van staatsgeadministrateerde tariewe op onder meer kospryse. Dr. Simphiwe Ngqagweni, die direkteur van ekonomiese dienste by die departement, sê só ’n studie word tans gedoen.
Lees ook:
Staat bekyk sy bydrae tot kospryse
21 Oktober 2010