Die beperking van die hoeveelheid grond wat ‘n boer mag besit, gaan nie welvaart in die land bevorder nie, sê mnr. Pieter Mulder, adjunk-minister van Landbou, Bosbou en Visserye en Vryheidsfront Plus-leier.
"Deur die nasionalisering van landbougrond en die instelling van ’n beperking op die hoeveelheid grond wat ’n boer mag besit, gaan armoede eerder as welvaart bevorder word in Suid-Afrika word," sê hy.
Volgens Mulder word daar tans onnodige debatte oor nasionalisering en grond in die land gevoer, terwyl Suid-Afrika internasionale mededingendheid begin verloor. “Dit is in almal se belang dat dié onsekerhede so gou as moontlik uit die weg geruim moet word.”
Prys vir veeboere
Mulder het die veebedryf geprys as die landbousektor wat die grootste deel (44%) van alle landbousektore tot die groeikoers bydra. ‘n Ontleding van die landbou se bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP)-koers wys daarop dat die bruto waarde van vee- en verwante diereprodukte in 2008 R53 miljard was, teenoor kontantgewasse se R40 miljard en tuinbouprodukte se R27 miljard.
“Sonder verbeterde genetika wat saad, bulle en ramme insluit, kan die teikens wat gestel is om kos aan almal in Suid-Afrika teen 2030 te voorsien, nie bereik word nie,” sê Mulder.
25 Oktober 2010