
Die jongste voorstelle van die staat se kant oor grondplafonne is nie nasionale vasgestelde perke nie, maar perke wat mnr. Gugile Nkwinti, die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, op distriksvlak kan bepaal.
Dit is steeds onaanvaarbaar omdat dit vaag is en onsekerhede sal meebring, het dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, by die organisasie se vooruitskouing vir volgende jaar gesê.
Dié nuwe voorstel, wat moontlik aanstaande jaar in die wetsontwerp op die regulering van grondbesit kan verskyn, is wel op ’n manier vordering omdat dit wegbeweeg van die vorige voorgestelde nasionale perke. Die perke sou wees: Tot 1 000 ha vir kleinskaalse kommersiële plase, tot 2 500 ha vir kommersiële plase op mediumskaal, tot 5 000 ha vir grootskaalse, kommersiële plase, en ’n spesiale kategorie van tot 12 000 ha vir bosbou, wildplase en hernubare energieplase.
Purchase sê dié vorige weergawe is gekritiseer as ongrondwetlik en nie ekonomies haalbaar nie. Oor die nuwe voorstelle het hy gesê: “Ons, en baie ander, sal grondperke bly betwis.”
Buitelanders
Oor die beoogde perk op internasionale besit van grond het Purchase gesê multinasionale maatskappye het grondbelange in Suid-Afrika, en dié maatskappye is “ontsaglik belangrik vir Suid-Afrika”.
“Hulle bring die jongste tegnologie en sekere vaardighede wat ons nodig het vir ons bedrywe om mededingend te bly.”
Eerste weiering
Agbiz is ’n voorstander van grondhervorming mits dit nie die mark ontwrig nie. Die organisasie het in 2012 reeds aan die Regering voorgestel dat die beginsel van reg op eerste weiering op landbougrond ingestel word.
Dit behels dat grond wat in die mark kom, eerste aan die Regering te koop gebied word. Purchase sê dit werk redelik goed in Namibië en Suid-Afrika sou al veel verder met grondhervorming kon gevorder het as hy dit ook ingestel het.
Die Suid-Afrikaanse Regering het egter tot dusver nie belangstelling getoon nie. Agbiz en die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) het ook ’n model vir ’n kommersiële finansieringsoplossing vir grondhervorming aan die Regering voorgestel. Die Regering het ingestem om ’n paar loodsprojekte van stapel te stuur, maar vordering daarmee is stadig.
Wette raak boere
Ander stukke wetgewing wat die landbou regstreeks raak en wat na verwagting aanstaande jaar op die Regering se agenda kan wees, sluit in:
¦ Die hersiening van die wetsontwerp op onteiening, nadat dit teruggestuur is Parlement toe;
¦ Die hersiening van die Wet op die Herstel van Grondregte (Wet 15 van 2014) nadat dit deur die Grondwethof ongeldig verklaar is; en
¦ Die afhandeling van die wysigingwetsontwerp op die uitbreiding van sekerheid van verblyfreg (Esta).
Landbousake
Ander stukke wetgewing en beleidsveranderinge wat aanstaande jaar ter sprake kan kom en ’n invloed op die landbousake-omgewing kan hê, is:
¦ Die wetsontwerp op koolstofbelasting;
¦ Beleidshersiening rakende die Seta-opleidingsowerhede;
¦ Die wet op die agentskap vir grensbestuur (border management agency bill);
¦ Die wysiging van die Drankwet (Wet 27 van 1989);
¦ Nuwe wetgewing rakende die wateromgewing en die toepassing van die nasionale waterhulpbronstrategie se tweede weergawe, wat deur die Kabinet goedgekeur is;
¦ Die inwerkingstelling van die nuwe en meer veeleisende landbou-sektorkode vir swart ekonomiese bemagtiging (sodra dit afgehandel is); en
¦ Die inwerkingstelling van die onlangs aangekondigde nasionale minimum loon.
Oor laasgenoemde sê Purchase ’n mens moet Suid-Afrika se nalatenskap van apartheid en uitbuiting onthou, maar verreweg die meeste Agbiz-lede betaal reeds meer as die minimum loon.
Wat die moontlike koolstofbelasting betref, sê hy Suid-Afrika kan dit in die huidige ekonomiese klimaat nie bekostig nie. “Dit gaan net ekstra koste en ’n ekstra las vir die landbou meebring.” As die wet veroorsaak dat plaaslik geproduseerde voedsel duurder word, behoort die Regering ’n tarief op ingevoerde voedsel te hef. Dit word tans oorweeg ná vertoë deur Agbiz.
Samewerking
Hy is egter wel optimisties oor die sogenoemde uitvoerende hoofde-inisiatief, wat deur mnr. Pravin Gordhan, Minister van Finansies, begin is en waarvolgens uitvoerende hoofde van maatskappye by samesprekings betrek word.
“Dit kan help om ’n omgewing vir sterk en inklusiewe groei in die breër landbou-voedselsektor te skep,” het hy gesê.