
Almal in die land, ongeag ras en burgerskap, wat landbougrond in Suid-Afrika besit, sal onderhewig aan grondplafonne wees, het mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, aangedui.
Dit beteken dat selfs die oorskotgrond van swart mense, bó die perk van grondplafonne, vir herverdeling onder die staat se vlerk geplaas sal word. Die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit, wat voorsiening maak vir die daarstel van grondplafonne en slegs ’n langtermynhuurstelsel van landbougrond vir buitelanders voorstel, is onlangs in die Staatskoerant vir openbare kommentaar gepubliseer.
Nkwinti het by die Parlement verduidelik dat die grond of plaasgrond van “álle Suid-Afrikaners, ongeag velkleur, in kategorieë van ekonomiese skaal verdeel sal word en enige grond bo die plafon, sal herverdeel word.
Staat sal oorskot grond koop
“In terme van die bestaande grondwetlike bestel, sal die staat die oorskot grond koop en herverdeel.”
Onteiening sonder vergoeding is nog nie ANC beleid nie. Of só ’n beleid aangeneem gaan word, moet nog by die ANC se beleidskonferensie in Desember bepaal word.
Nkwinti verduidelik dat “indien die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit môre wet word, dan sal enige oorskot grond gekoop moet word”. “Indien ons nou moet onteien, sal billike en regverdige vergoeding ook geld.” “Die (Mangaung) resolusies van die ANC praat van onteiening sonder vergoeding in voorvalle waar grond onwettig bekom is, of wanneer dit vir misdadige doeleindes gebruik word.”
Grondplafonne per distrik
In die wetsontwerp word aangedui dat die Regering grondplafonne distriksgewys gaan vasstel en nie meer ’n sambreel nasionale grondplafonne gaan stel soos eers aangedui was nie. Dit wil ook grondhervorming binne die perke van Artikel 25 van die Grondwet sien en in die algemeen die regime sement wat sekerheid moet bring oor hoe die herverdeling van grond in die land bestuur moet word.
Die moontlikheid dat bestaande grond wat buitelanders besit na langtermyn-huurooreenkomste omgeskakel kan word, is steeds nie van die baan af nie.
Die ANC het reeds by sy Mangaung-konferensie in 2012 besluit dat geen buitelanders ná aanvang van die wetgewing grond mag besit nie én dat “huidige eienaarskap van grond deur buitelanders in landtermyn-huurooreenkomste omgeskakel word ná die voltooiing van ’n grondoudit” wat sal aandui wie presies wat in die land besit.
Vestiging van Grondkommissie
Die wetgewing vir die regulering van grondbesit maak voorsiening vir die vestiging van ’n Grondkommissie, waar alle grondbesitters hulle eiendom moet verklaar, waarna die oudit voltooi kan word. Dié inligting sal dan gebruik word om te bepaal tot watter mate grond in die land herverdeel moet word. “Baie mense besit grond deur trusts. Ons weet nie wie al die aandeelhouers in die trusts is nie en deur registrasie van almal te wettig, sal ons weet wie besit wat in Suid-Afrika.”
Nkwinti het dit duidelik gemaak dat die grond van buitelanders nie arbitrêr afgevat sal word nie, want die Grondwet laat dit nie toe nie.
Indien ’n wetlike weg gevind word om hulle bestaande grond in huurgrond om te skakel, sal hulle steeds billik en regverdig daarvoor vergoed moet word, het hy benadruk.