
Die ANC-regering se planne om plaasgroottes met wetgewing te beperk, is verder verfyn ná die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming nuwe beleidsmaatreëls in dié verband geformuleer het.
Kragtens dié beleid beweeg die Regering nou weg van ’n sambreel “nasionale” grondplafon.
Landbouweekblad het betroubaar verneem volgens dié nuwe beleid sal die kategorieë vir grondplafonne distriksgewys bepaal word.
’n Grondkommissie waarvoor die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit voorsiening sal maak, sal ’n sentrale rol speel in die vasstel van dié plafonne. Die voorgestelde kommissie sal, wanneer hy tot stand gebring is, mense die geleentheid kan bied om grond wat nie hulle regmatige eiendom is nie, terug aan die staat te gee.
Grond wat bedrieglik bekom is
Dit sal die mag hê om onder meer ’n deklarasie van enige eiendom met ál die verwante dokumente daartoe kan vra en ook amnestie mag verleen en/of vervolging inisieer. Dit sal ook op grond beslag kan lê wat op ’n bedrieglike of korrupte wyse bekom is.
Verder kan enigeen gedagvaar word om voor die kommissie te verskyn en vrae te beantwoord oor sy/haar grond en grondbelange.
Die kategorieë waarin plase verdeel word, kan moontlik, soos in die vorige beleid, onderverdeel word in ’n kleinskaalse kommersiële plaas, ’n mediumskaal kommersiële plaas, ’n grootskaalse kommersiële plaas, en ’n spesiale kategorie vir bosbou, wildsplase en hernubare energieplase.
Na verneem word het die departement nou ’n spesifieke prosedure geformuleer van hoe om grondplafonne vir landbougrond vas te stel.
Spesifieke prosedure
* Die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming sal ná konsultasie met die Grondkommissie die kategorieë vir grondplafonne in elke distrik bepaal. Dit kan beteken dat die plafonne van elke distrik van mekaar kan verskil.
Nadat die distrik se grondplafonne vasgestel is, sal ’n kennisgewing in die Staatskoerant gepubliseer word.
* Die Minister sal die mag hê om spesiale kategorieë van grondplafonne te kan instel én kan selfs ’n sekere kategorie kwytskeld van grondplafonne.
* Die bepaling van die grondplafonne per distrik sal gebaseer wees op kriteria en faktore wat deur regulasies vasgestel sal word.
* Voordat ’n grondplafon ingestel word, sal die voorgestelde plafon vir kommentaar gepubliseer word en belanghebbendes sal 30 dae tyd kry om bydraes te lewer.
'Oorskot-grond'
Landbouweekblad verstaan dat enige oorskot grond tussen die vasgestelde kategorieë dan as landbougrond vir herverdeling geklassifiseer sal word.
* Wanneer dit kom by oorskot-grond wat deur buitelanders besit word, sal die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming die reg op eerste weiering hê. Die Minister sal 90 dae kans kry om aan te dui of die departement die grond gaan koop of nie. Indien die Minister nie die grond gaan aankoop nie, dan eers kan die buitelander die grond op die ope mark beskikbaar stel aan Suid-Afrikaanse burgers.