
Plase rondom die Klein Karoo-dorpie Prins Albert wat goeie water en landbougrond het, se pryse het die afgelope vyf jaar feitlik verdubbel.
Me. Yolande Singery van die eiendomsagentskap Seeff sê pryse vir weidingplase wissel van R1 500 tot R3 000 per hektaar, afhangend van watter kant van die dorp die plaas lê omdat die reënval hiervolgens verskil.
“As dit grond is waar gewasse onder besproeiing verbou kan word en wat ook weiding het, kan pryse gemiddeld R8 000 per hektaar beloop.”
Singery sê leefstylplasies se pryse het nóg baie meer gestyg. Die dorpie begin 'n reputasie as “die Franschhoek van die Karoo” kry, wat sommige inwoners as goed vir die dorp beskou, “maar ander is daarteen gekant dat die dorp te deftig raak en sy ouwêreldse status verloor”.
Singery skryf die gewildheid van die omgewing daaraan toe dat dit naby genoeg aan groot sentrums, soos Oudtshoorn en George, is vir plaasmasjinerie, onderdele en dienste.
Water kom meestal van boorgate omdat die riviere nie standhoudend is nie. Plase ná aan die berge kry water uit fonteine. Die beskikbaarheid van water beïnvloed beslis die prys, sê Singery.
Kopers sluit boere van elders in die land maar ook stedelinge in. Van die kopers soek spesifiek afgeleë plase, ver van openbare paaie. Dan is daar ook plaaslike mense wat koop om hul grond uit te brei.
Die meeste boere boer met skape en op die bewerkbare plase lyk dit volgens Singery asof 'n verskuiwing na saadproduksie plaasvind.
Wortel- en veral uiesaad word onder meer verbou, lusern word geplant, en nuwe boere begin met wild vir jagdoeleindes boer.
Die omgewing is bekend vir sy vye en die afgelope paar jaar word olywe op groot skaal verbou. Die wynplase is hoofsaaklik in die Prins Albert-vallei.
Die Bergwater-wynkelder van 1 500 ha word nou teen R94 miljoen deur Seeff bemark. Die eiendom het waterregte vir 86 ha besproeiing en verder onder meer 63 ha wingerd, 8 ha olyfbome, 'n vliegveld, restaurant en gastehuise.