
Navorsing in vyf provinsies toon dit gebeur as welgestelde en invloedryke mense, mense met politieke bande en landboubesighede met staatsamptenare saamspan om op ’n korrupte manier voorkeurtoegang tot staatshulp te kry.
Dr. Farai Mtero, senior navorser by die instituut vir armoede-, grond en landelike studies (Plaas), het by die bekendstelling van ’n verslag oor elitekaping in Suid-Afrika se grondherverdelingsprogram gesê korrupsie is net een deel van die storie. “Wat meer kommerwekkend is, is dat herverdeling vanuit die staanspoor voorkeur gee aan welgestelde mense.”
Mtero, mnr. Nkanyiso Gumede en me. Katlego Ramantsima het die navorsing in sewe distriksmunisipaliteite in die Oos-Kaap, die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Noordwes en die Wes-Kaap gedoen.
Mtero en sy span navorsers beveel aan dat ’n nuwe grondhervormingswet gepromulgeer word om regverdige toegang tot grond moontlik te maak, en sodoende aan die Grondwet uitvoering te gee. Die probleem van arm mense se gebrekkige toegang tot grond kan ook verbeter word as mense wat grond wil hê, meer betrokke kan wees by die identifikasie van grond. Die staat se benadering is om grond te koop wat aan hom aangebied word. Arm mense kan dikwels nie tot daardie grond toegang kry nie.
Mtero sê nog ’n probleem is dat die herverdelingsprogram grootskaalse kapitaalintensiewe en geïntegreerde landbouproduksie, soortgelyk aan wit kommersi?le landbou, vooropstel, al is dit “nie in pas met die maatskaplike en ekonomiese werklikheid van kleinskaalse en bestaansboerdery nie”.
“Die regering beskou kommersi?le boerdery as die enigste ‘behoorlike’ vorm van boerdery en probeer om dit deur grondhervorming te repliseer. As gevolg van dié benadering is dit veral die ryk mense wat toegang tot ander hulpbronne, kennis en inligting het, wat deur die herverdelingsprogram bevoordeel word.”
Om die probleem te oorkom, beveel die navorsers aan dat die besteding aan hulp vir boere regverdiger verdeel word sodat dit ook die armes bereik.